TUIS
'n Straatengel

Daar was in ‘98 sowat 10 miljoen straatkinders in Afrika en hoewel syfers vir Suid Afrika onbekend is, is dit ʼn reuse probleem. Die afgelope 6 jaar bied die hulporganisasie, MyLife, in Kaapstad ʼn ondersteuningstelsel.

MyLife is gestig deur Linzi Thomas. Dié kinders het Linzi Thomas se hart geraak toe sy in 1998 in die stad aan ʼn film geskiet het. Sy het oor 8 jaar hul vertroue gewen en is vandag die één wat na hulle omsien. Sy sê hoewel dit nie elke dag maklik is nie en soms voel of jy een tree vorentoe en drie terug gee, sal sy nooit haar rug op hulle keer nie.

Met Linzi se hulp het Damian en Freda Snyders die straatlewe finaal gegroet. Hulle is vandag getroud, werk gereeld met straatkinders en lewer praatjies by skole. Freda het ook in 2003 onder die eerste 15 in die Coca-cola-popidols kompetisie geëindig. Daar is selfs ʼn film oor haar lewe gemaak. Damian werk in die filmbedryf maar bestee al sy vrye tyd om by die straatkinders uit te kom.

Volgens Freda is dit belangrik dat jy as straatkind jou hand moet uitsteek en vir iemand sê, help my, ek wil nie meer so lewe nie. Die moeilikste deel is om jou ‘straatfamilie’ te groet omdat dit die enigste familie is wat jy ken. Hierdie kinders word daagliks aan die allerverskriklikste gevare blootgestel en ken geen ander lewe nie.

Linzi vat die kinders dokter toe, op uitstappies, skep sport- en opvoedingsgeleenthede en reël kos. Sy het ʼn verhouding opgebou met ʼn paar restaurante waar sy en van haar kinders gereeld inval om gou te eet. Al is dit net visvingers en skyfies of ʼn broodjie en melk, is dit dikwels meer as wat hulle in weke eet. Volgens haar is dit ook die restaurante en sjefs se kans om iets vir hierdie kinders te doen.

Die Mylife-huis wat sy begin het, was aanvanklik net ʼn plek van veiligheid vir kinders wie se lewens in gevaar was. Nou woon hier sowat 19 straatkinders wat gehelp word met vaardighede en opvoeding sodat hulle so gou moontlik vir hulself kan sorg en plek kan maak vir nuwe kinders.

Linzi en haar helpers, soos Damian en Freda, identifiseer kinders wat reg is om van die straat af te kom. Hulle word dan op ʼn kamp geneem waar hulle berading ontvang voordat hulle in die Mylife-huis ingeneem word. Hier het hulle nie net verantwoordelikhede nie, maar help ook straatkinders en betaal huur. Volgens Linzi is hul grootste probleem dat hulle reeds 19 kinders het en nie die fasiliteite of fondse het om nog in te neem nie. Sy sê dit breek haar hart om kinders wat kom aanklop vir hulp, weg te wys, maar kan hulle nie ʼn belofte maak om na hulle om te sien as sy weet hulle kan nie nog een dra nie.

Die kinders sê dat hul verblyf in die huis vir hulle ongelooflik baie beteken. Maar, dat dit ook soms moeilik is en dat hulle sommer haaks raak oor iets soos die laaste bietjie grondboonbotter. Behalwe die minimale huur wat die wat werk betaal , word die res van alle uitgawes met fondse gedek wat maar skamel is.

Ons het Pasella se nutsman, Jacques Kohn se hulp ingeroep omdat ons ook op ʼn geringe manier waarde wou toevoeg. Die keuse het op ʼn tafeltennis-tafel geval omdat dit as ontspanning kan dien. Jacques verduidelik hoe en hulle help gewillig. Kliek hier vir vir stap-vir-stap-aanwysings.

Linzi wil uiteindelik ʼn plaas met opvoedings-, sport- en kunssentrums ontwikkel. Hier kan die kinders holisties gehelp word om ʼn sinvolle rol in die samelewing te vervul. Sy wil die stadskinders oplei en vaardighede gee om in die platteland in te gaan en kinders sonder hoop te help. Hulle moet vaardighede geleer word, leiers word sodat hulle nie na die stede stroom en meer en meer kinders op die straat woon nie. Volgens haar is dit slegs vir ʼn gerehabiliteerde straatkind moontlik om ʼn ander een regtig te help want net hulle weet en ken die omstandighede waarin hierdie kinders leef.

Sy is ʼn formidabele en dinamiese vrou wie se hart op die regte plek sit. En, as jy haar vra, sê sy sy doen dit omdat sy regtig haarself is wanneer sy by haar kinders is en hulle ongelooflik baie vir haar beteken.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

MylifE
Linzi Thomas
Tel: 021 434 5072
E-pos: info@mylife.org.za
Webblad: www.mylife.org.za

Jacques Kohn
083 285 6520





Kliek hier om ons kookboek te bestel