TUIS
'n Doringplant se swier

Anna begin deur te sê hoewel sommige mense meen doringplante is ʼn euwel, is dit eintlik goeie plante om in jou tuin te hê. Die outjies het min versorging en water nodig en maak die allermooiste satynagtige blomme. Boonop kan dit ook diens doen as veiligheidsheining om skurke uit jou erf te hou. Sy sê as ʼn dief byvoorbeeld oor ʼn muur spring in ʼn bougainvillea-bos in, sal hy goed en seer vashaak.

Hoewel die plante inheems is aan Suid-Amerika, groei dit byna oral in Suid-Afrika omdat dit hou van ons warm en droë klimaat. Sy wys ons hoe om een te plant. Die gat moet minstens 700 mm diep en 500 mm breed wees. Binne-in het sy kompos en ʼn bietjie potgrond gemeng en ook ʼn handvol beenmeel ingegooi. Die gat moet net so diep wees as wat die kwekery se sak lank is. Sy sê ook jy moet te alle tye vermy om die plant aan sy stam uit die sak te tel. Hulle hou glo nie daarvan nie. Sy sny gewoon die plastieksak aan die kante stukkend en sit die plant met plastiek en al in die gat. Sy wortels vind wel hul weg in die grond in en so maak jy ook nie die boom seer nie. Hierna, sê sy, kan jy bietjie water gee, maar weet dat die blare aanvanklik effens gaan hang. Daarna vra die plant nie veel nie – so nou en dan ʼn bietjie water, om effe teruggesnoei te word in die vroeë lente en ook dan ʼn bietjie misstof te kry. Gee hom laatsomer ook ʼn bietjie misstof en jy sal verbaas wees oor die visuele fees van blomme wat hy dra.

Volgende aan die beurt vir ʼn doring van ʼn plan is kwekery-eienaar Willie Schmidt. Hiervoor gebruik hy tuinafvalmateriaal. Hy gebruik ʼn draadkandelaar en sny ʼn paar sagte takke van ʼn koorsboom af. Die takke ry hy deur die kandelaar en hang dit dan aan die dak op met kerse om atmosfeer te skep. Willie sê die pyracantha-struik sal ook werk. Dit sal veral dié tyd van die jaar mooi lyk omdat dit dan vol geel of rooi bessies is.

Vir sy tweede plan, gebruik hy ou draad en buig dit in ʼn hartvorm. Hierna vat hy doringdraad en draai dit dig om die oorspronklike vorm. En jy hoef nou nie die naaste boer se ou geroeste draad af te knip nie – koop joune nuut en bespuit dit goed met swembadsuur. Binne net een week sal jy sien hoe dit begin roes. Die harte is bedoel om ʼn mini-tuin binne-in ʼn pot te skep. Hy gebruik ʼn groot vierkantige geroeste pot en plant Carissa Storms of te wel miniatuur noem-noems van hoek tot hoek. Hoewel die plantjies skadeloos lyk, het dit ʼn geniepsige steek as jy nie versigtig werk nie. Die harte word nou ingepak soos loopklippe. Binne in die hart gooi hy ʼn ander kleur spoelklippie om kleur en tekstuur te verkry.

George Erasmus van die Universiteit van Stellenbosch se Botaniese Tuine, wys vir Charlene hoe om ʼn stekelrige vetplant te verplant. Hy sit handskoene aan en maak die grond rondom die plant los met ʼn stokkie. Dan vat hy ʼn ou matjies (badkamermatjie), rol dit op, hou dit aan die kante vas en tel die plant daarmee op. Dit word in die ander potjie gesit en die grond weer met ʼn stokkie vasgedruk.

Hierna maak ons ʼn skaaktuin. Heel eerste word ʼn onkruidmat gelê om te keer dat dié onwelkome indringers die tuin versteur. Dan word blokke en klippies afgewissel om ʼn skaakbord-effek te verkry. In die klippies word dieselfde vetplante geplant om ʼn mooi simmetriese tuintjie te vorm.

Nou ja, so het ons geplant, versorg, verplant, kandelare, harte, ʼn skaaktuin gemaak en nou onthaal ons. Kom ons kyk wat is op die tafel en die spyskaart. Die blomme is pragtige doringtakke wat in ʼn pot gesit is terwyl die servetringe gevlegte doringtakkies is. Daarmee saam is vrugte soos bessies, turksvye en bessiesap bedien. Die hoofhappie was ʼn hoender-en-pampoensosatie op ʼn roosmarynstokkie.

Kliek hier vir die benodigdhede en metodes.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Willie Schmidt

Anna Cilliers

Aspidistra Tuinsentrum
Tel: 021 881 3494
E-pos: willieschmidt@telkomsa.net