TUIS
Alles behalwe Doringrosie

Zeena was reeds rugby- en gholfjoernalis by Business Day voordat sy ʼn pos as aanbieder, analis en navorser op SABC 2 se Rugga Zone losgeslaan het.

Paul het haar gaan soek waar daar rugby gespeel word en haar gekry op Loftus Versfeld waar die Vodacom Bulls op 19 April teen die Highlanders uitgedraf het. Sy sę die atmosfeer op Loftus Versfeld is ongelooflik as ʼn belangrike wedstryd gespeel word.

Op ʼn vraag hoe dit is om so tussen ʼn klomp manne te werk, antwoord Zeena dat hulle mekaar respekteer en dat sy baie goeie ondersteuning van die mans kry.

Sy het na matriek by die Universiteit van Johannesburg geswot met joernalistiek en sosiologie as hoofvakke. Daarna het sy begin werk by die tydskrifte Engineering News en Mining Weekly totdat sy in 2004 by die Business Day aangesluit het.

Die rede hoekom sy rugby goed ken, is omdat sy self ʼn kranige speler is. Sy het reeds in 1999 vir Gauteng-skole ‘touch’ rugby gespeel en draf deesdae vir die Goue Leeus se vroue-sewes-span uit.

Sy het ook ʼn ruk haar hand - of miskien moet ons eerder sę haar voet - aan sokker gewaag en is ʼn gekwalifiseerde vlak 2-touch rugbyskeidsregter.

Paul wou weet of vrouens wat rugbyspeel nie gewoonlik as ‘tomboys’ geklassifiseer word nie. Volgens Zeena is dit so en dis hoekom sy besluit het om haar hare ʼn bietjie langer te laat groei sodat sy ʼn sagter voorkoms het.

Haar hoërskoolloopbaan het sy aan Greenside Hoër voltooi waar sy onderskeidings in Afrikaans en Wiskunde behaal het. Vandag bly sy by haar laerskoolonderwyseres ma, Moeneera in Florida Glen. Sy het ook ʼn suster, Marina wat twee jaar ouer is as sy en in die menslike-hulpbron-węreld werk.

Ma Moeneera kyk altyd as sy aanbied en laat gou per sms weet as haar hare nie reg lyk of sy dalkies te veel grimering aan het.

As sy enigsins tyd het, kry jy haar op die gholfbaan en in die gim. Soms kuier sy darem by haar vriende, werk ʼn fliek deur of kyk Formule 1 op tv.

ʼn Hoogtepunt, sę sy, was toe sy met kaptein John Smit direk na die afloop van die wedstryd sommer net daar op die wenveld ʼn onderhoud kon voer.

As jy haar vra wat haar doelwitte vir die jaar is, sę sy, sy werk tans so hard dat sy dit net een dag op ʼn slag vat en kyk wat die lewe haar toedeel. Kry haar vanaand om 10 uur op 2.

PASELLA Sę DANKIE AAN:

Zeena Isaacs en familie

Bryan Habana

Yolandie Austun