






Die landbou-dorpie lê sowat 60 km vanaf Klerksdorp diep in die Noordwes-provinsie. Hier is vandag ongeveer 4 500 dorpenaars, heelwat meer as toe ene meneer A Strachan op 6 Desember 1920 toestemming tot dorpstigting verkry het. Daarna het drie winkels en ʼn kerk gevolg hier op die hoofspoorroete tussen Kaapstad en Johannesburg.
Die eerste stoomtrein het in 1906, 14 jaar voor die amptelike dorpstigting, die vlaktes hier wakker geskud. Joey Rossouw het by die ou stasie gewag. Sy vertel dat die naam glo kom van ʼn leeu wat ʼn man gevang het maar in die proses op ʼn doring getrap het. Met die uitlek van die doring, het die man kans gehad om te ontvlug en so is sy lewe deur ʼn doring gespaar.
Die ander storie is dat ʼn Voortrekkerkind deur ʼn leeu onder ʼn doringboom gevang is en ander meen dat hier gewoon toentertyd heelwat doringbome en leeus te sien was. Hoe ook al, ʼn dorpie wat net as Leeudoorns bekend was, is aanvanklik 2 km hiervandaan begin. Met die koms van die spoorlyn, het die mense geskuif na waar die dorp vandag is. Dis ook waar Joey se man, Koos, se privaatmuseum vol interessante rygoed te sien is. Koos het 46 ou motorfietse waarvan 38 kan ry. Hy gee langtand die sleutel van ʼn ou motor aan Paul. Die plan was om hom te gaan wys waar ʼn ramp die dorp in 1932 getref het. ʼn Trein wat 312 ton dinamiet op 32 goederewaens vervoer het, het ontplof en 6 mense gedood.
Op ʼn meer positiewe noot, is Leeudoringstad die hoofkantoor van Suidwes Landbou – een van Suid-Afrika se grootste landbougroepe. Hulle vier ook volgende jaar hul 100ste bestaansjaar en Paul het met Phillip van der Merwe gesels wat al 19 jaar by Suidwes werksaam is. Hy vertel dat hier hoofsaaklik met mielies, koring en sonneblom geboer word.
Op pad na kunstenaar Joan Jansen het Paul deur die dorp gestap. Hier is ʼn hele paar winkeltjies, maar blykbaar ry die meeste mense Klerksdorp toe vir groot aankope. Joan en haar man Johan bly 27 jaar hier. Dié oud-onderwyseres se kunswerke fokus op inheemse Suid Afrikaanse stamme, artifakte en natuurtonele. Sy maak haar eie medium wat dikwels ʼn mengsel van gips, lym en verf is. Haar werk noem sy ‘opgebou’ omdat dit so gedoen word dat ʼn blinde mens dit met sy hande kan lees.
Sedert 1990 het Leeutjies ook ʼn rolbalbaan en –klub en Paul is genooi om te kom saamspeel. Voorsitter Ben Marx vertel dat hulle 19 lede het wat gewoonlik op ʼn Saterdagmiddag teen mekaar meeding. So nou en dan het hulle ook borgdae en dan kom van die omliggende dorpe se spanne ook meeding.
Paul doen heel goed met sy eerste gooi, maar wat ʼn mens natuurlik in gedagte moet hou, is dat die bal aan die een kant swaarder is as aan die ander en dus kan hy maklik ʼn wye draai rol!
Van hier af, het Paul gaan soek na die plaas Syfergat. Dit is sowat 18 km uit die dorp en gelukkig vir hom het ʼn ubuntu-gevoel ʼn aankomende perdekar oorval en hy is opgelaai. Oom Piet Erns van Syfergat sê dit is die natuurlike kalkgrond wat maak dat hulle die beste vrugte kweek vir die stook van witblits en mampoer asook die maak van likeur. Hy het Paul ingewag met proeglasies...
Soorte mampoer wat jy hier kry is perske-, vye-, maroela-, kersie- en naartjie. Sedert hy in 1948 hiermee begin het, het sy brandsoppies al vele pryse ingewin. Enigeen kan kom proe, maar jy moet net vooraf ʼn afspraak maak. En, maak tog seker jy eet iets voor jy sluk, want dié voggies brand sommer ʼn gat dwarsdeur jou slukderm tot in jou maag.
Al wat ons kan sê is, moen-nou-nie hiernatoe ‘poer’ nie, blits eerder in dié rigting en kom swaai jou maanhare ʼn slag hier rond!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Buisfontein Safari Lodge
Pieter Janse van Rensburg
Tel: 018 598 6704
E-pos: buisfontein@mweb.co.za
Joey en Koos
Rossouw
Tel: 018 581 2407
Suid-Wes Groep
Phillip van der Merwe
Sel: 083 379 7547
Joan Jansen
Tel: 018 581 2336
Sel: 082 929 1132
Pieter Ernst
Tel: 018 581 9513
Sel: 076 383 1307
Leeudoringstad Rolbalklup
Ben Marx
Sel: 082 555 6270