TUIS
Sonnige stelsels vir energie

Met die kragkrisis wat tans in Suid-Afrika heers, is dit elkeen van ons se plig om te kyk hoe ons op elektrisiteit (en sommer water ook!) kan bespaar. Pasella gesels met kenners in die veld van fotovoltaïese sonpanele en ook sonwaterverhittingstelsels. Ons doen ook aan by twee huise om te sien wat nodig is om jou op die son aangewese te kry.

Charlene begin by The Green Building in Tokai. Dit is die kantore van SEA of te wel Sustainable Energy Africa wat in 2004 die Cape Times/Caltex Omgewingstoekenning gekry het. Lize Jennings is aan die woord en sy vertel dat die hele gebou van herwinbare materiaal gebou is. Om natuurlike energie optimaal te benut, is die mure dik gebou, die vloere solied en groot vensters gebruik om lig en lug in te laat. Afdakke van latte laat die winterson in, maar keer die direkte strale van die somerson. Die gebou is so ontwerp om sowat 10 persent van ʼn gewone gebou se ligkrag te verbruik – die res is natuurlik. Hulle maak ook van sonwaterverhitting- en fotovoltaïese panele vir elektrisiteit gebruik. Omdat hulle tweedehandse panele het, is nie almal dieselfde nie. Hoewel dit goed werk, sê Lize jy moet eerder probeer om alles van een soort op te sit, omdat dit doeltreffender werk as wanneer jy verskillendes kombineer.

Vir elektrisiteit is daar tans net fotovoltaïese modules wat met silikoonsselle werk. Soos alles anders, is daar verskillende make wat wissel in kwaliteit. Dus hang dit van jou huis en beursie se grootte af hoeveel, hoe groot en watter kwaliteit jy wil installeer.

Wat warmwaterstelsels betref, word mense dikwels afgesit omdat die geiser dan buite op die dak moet wees. Onnodig, sê Anwaard Arnold van Sunpower, deur ʼn pompie te installeer, kan jou geiser enige plek in die huis of garage gesit word. Die pompie kry krag van die sonpaneel af en forseer sirkulasie tussen die geiser en die paneel. Maar, dit is tog raadsaam om jou geiser so naby moontlik aan die panele en krane te installeer om onnodige hitteverlies te voorkom.

Jacques de Villiers van Sunflare neem ons na huis nommer een. ʼn Groot huis met vier slaapkamers. Die huis het drie geisers en maak gebruik van drie vakuumbuiskollektors. Hierdie een het 22 buise waarvan elke buis 10 liter water verhit. Volgens hom word dit maklik op ʼn teëldak geïnstalleer. Hy meen ʼn sonverhittingsstelsel se leeftyd is sowat 25 jaar en installasietyd hang af van die stelsel wat jy kies en die hoeveelheid geisers wat jy het. Hoewel jou bestaande elektriese geisers kan werk, is sonsilinders minder problematies, beter geïsoleer en dus veel meer doeltreffend.

Die huis gebruik vier fotovoltaïese panele wat genoeg krag op te wek vir ligte en ʼn rekenaar of wat. By elektriese stelsels word die panele, ʼn foto-elektriese reguleerder of batterylaaier, batterye en ʼn wisselrigtoestel of omsetter geïnstalleer. Dié stelsel gebruik 4 batteryekiste van 6 volt elk vir ʼn totale batterykrag van 24 volt. Die batterykrag wat jy nodig het, hou verband met die grootte van die stelsel wat jy installeer. Jy kan ook spesifiseer hoe lank die batterye krag moet berg vir dié dae as die son nie skyn nie.

Die tweede huis waar ons aandoen, het drie elektriese panele wat saam 600 Watt genereer - genoeg om die ligte van ʼn gemiddelde drieslaapkamerhuis en ʼn rekenaar te trek. Dit word op die mees noordelike dak gesit. As jy grasdak het, kan dit daarop kom, maar omdat dit elke drie tot vyf jaar behandel moet word, moet die panele telkens afgehaal en weer aangesit word.

Die huis gebruik ook ʼn vakuumbuiskollektor as sonwaterverhittingstelsel. Dit is volgens Andrew Janisch van Sustainable Living Projects meer doeltreffend as plat panele. Dit word geïnstalleer teen ʼn hoek van 35 grade – die beste om ons winter- en somerson te vang. So ʼn stelsel sal jou tussen R10 000 tot R20 000 uit die sak jaag en sluit installering in.

Wat die elektrisiteitstelsel betref, word dit tans verkoop tussen R40 en R45 per Watt. Die koste sal dus wissel na gelang van jou huisgrootte.

Andrew wys Charlene ook ʼn manier om die son te gebruik om kos te maak. Die eerste plan is om ʼn ‘hotbox’ te gebruik. Dit is van polistireenballe gemaak wat die hitte goed hou. As jy dus ʼn potjie vir ʼn ruk op die stoof sit en hom dan daarin pak en in die son sit, sal hy verder rustig gaar word. Nog ʼn plan is ʼn sonstoof of -koker wat ʼn paraboliese vorm het. Juis daarom raak hy baie warm en jy kan bak en braai in hom – kyk net gereeld dat jou kos nie band nie. Vir die beste kookresultate moet dit direk na die son wys en daarom sal jy dit so elke 20 minute effens moet skuif.

Ons hoop dit gee ʼn bietjie lig in ʼn donker tonnel! Geniet Suid-Afrika se warm son en span hom sommer in ook om die aarde so effe genadiger te wees.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Sustainable Energy Africa
Tel:021 702 3622
E-pos: info@sustainableprojects.co.za
Webtuiste: www.sustainableprojects.co.za

Sunpower
Webtuise: www.sunpower.co.za





Kliek hier om ons kookboek te bestel