TUIS
Quanita Adams se aansteeklike lag

Sedert sy in 2002 klaar geswot het, was Quanita al in ʼn verskeidenheid rolle soos ʼn Irakese verpleegster in die tv-drama, ER en Sannie Grootboom in die film Forgiveness. Plaaslik was dit Villa Rosa, Erfsondes, Orion, Laugh Out Loud en nog ʼn hele paar ander. Boonop het sy ʼn sterk, suiwer stem wat gehore bekoor.

Sy het in Grassy Park op die Kaapse Vlakte grootgeword en eers Skone Kunste op UCT Skone geswot voordat sy haar hart gevolg het. Sy sê konsert hou was nog altyd deel van haar raamwerk. Sy en haar niggies, nefies en broer het van kleintyd af almal met hul konserte vermaak. En, nee, dit was nie sommer sulke konserte nie, daar was altyd ook ʼn pouse waar skyfies en grondbone te koop aangebied is!

Pa, Nazeem is ʼn meganiese man en maak staal en perspex-mooigoed vir kombuise terwyl Ma Felicity ʼn assistent-klere-aankoper is. Haar broer, Tauriq is ʼn projekbestuurder in die finansiële wêreld. Hy sê sy was maar van kleins af ʼn aktrise en hy kon nooit weet of sy regtig kwaad vir hom was nie – juis omdat sy toe al toneel gespeel het!

Sy is ʼn weegskaal en het inderdaad ʼn sterk persoonlikheid, maar word ook beskryf as iemand wat haarself in die skadu stel. Haar hoofdoel is om SA teater en film voortdurend hoër te laat mik. Nader aan die aarde, is sy en Charlene na The Scratch Patch in Simonstad om verder te gaan lag en gesels.

Aan haar diep kant, is sy drie jaar al betrokke by: The Truth in Translation, ʼn verhoogproduksie waarin die Waarheids- en versoeningskommissie se storie deur die oë van tolke vertel word. Hulle fokus op konflikgeknelde lande en glo dat hulle produksie mense iets leer oor aanvaarding en vergewing.

Hulle volgende stop was Kalkies in die Kalkbaaihawe. Sedert sy vir haar rol in Forgiveness hier moes kom leer vis skoonmaak, is dit een van haar en haar ouers gunsteling-eetplekke.

Op ʼn vraag waarom sy graag rolle kies wat sosiale kommentaar lewer, antwoord sy dat sy die dinge wat in die verlede onregverdig was, op dié manier wil regstel. Sy maak dit duidelik dat dit tyd is om aan te beweeg en apartheid en sy probleme op die agtergrond te skuif.

Sy was tot 8 Februarie hier in ʼn produksie gegrond op die boek, Kroes deur Pat Stametelos. Ook in die rolverdeling is Kim Engelbrecht en Nico Panagio. Gelukkig is dit weer tussen 12 en 15 Maart by die Oude Llibertasteater in Stellenbosch op die planke – doen moeite om dit te sien en sommer ook die boek te lees. Dit is werklik ʼn eg Suid-Afrikaanse verhaal waarmee ons almal kan identifiseer.

Charlene gesels met vervaardiger Saartjie Botha en vra waarom hulle Quanita in die rol van Laetitia – die hoofkarakter Patty, se beste vriendin – gekies het. Saartjie sê dat sy geweldig baie energie na die verhoog bring en dat sy werklik in 1969 instap en die rol ongelooflik oortuigend vertolk. Volgens haar, ʼn ware sonneblom!

Kyk uit vir haar by vanjaar se Grahamstadfees waar sy in ʼn nuwe produksie, Cissie van Nadia Davids speel. Intussen gaan sy saam met haar mede-akteurs van Truth in Translation ʼn draai in die geknelde Zimbabwe maak. Dus nog ʼn besige jaar vir haar!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Quanita Adams en familie

Top Stones & Mineral World Scratch Patch
Tel: 021 786 2020
E-pos: topstones@topstones.co.za
Webtuiste: www.scratchpatch.co.za

Kalky's Fish & Chips
Tel: 021 788 1726





Kliek hier om ons kookboek te bestel