TUIS
Bathurst se sappige pynappels

Tien minute van die see staan Bathurst soos ʼn sappige pynappel uit. Dié area sorg vir sowat 145 000 ton pynappels per jaar – vyf keer meer as wat KwaZulu-Natal produseer. Die groot pynappel waarvan ons hier bo praat, is ʼn hele 16,7 meter hoog en die een naaste aan sy grote is Doer Onder.

Anders as wat ons mag dink, kom pynappels nie van Hawaii af nie, maar is inheems aan Uruguay en Brasilië se wêreld en groei dit nie aan bome nie. Elke plantjie maak volgens Buks Marais van die koöperasie net een pynappel in twee jaar en dus verg dit ʼn geduldige boer om pynappels te verbou. Daar is hordes variëteite in die wêreld, maar by Bathurst word drie verbou. Twee eetbares genaamd Queen en Cayenne en die blompynappel wat ornamenteel in rangskikkings gebruik word. Die Cayenne word meestal vir inmaak gebruik terwyl die Queen ʼn gewilde vars vrug is.

Van eerste plantjie in 1865 tot lywige industrie. Sedert 1994 is hier ook ʼn navorsingsentrum langs die reusepynappel wat in 1991 opgerig is. In sy buik word dié vrug se pad in die Oos-Kaap uitgebeeld.

Volgens die geskiedenis was hier 9 grensoorloë tussen 1779 en 1878. Die dorpie self is in 1820 gestig as administratiewe sentrum van die area, maar dié status is deur Grahamstad oorgeneem. Paul is na die Pig ʼn Whistle hotel wat kort na die dorpstigting gevolg het. Dit het verlede jaar sy 175ste bestaansjaar gevier en is glo plaaslik een van die oudstes van sy soort. Sjef Sylvia Tom het vir Paul ʼn pynappelfees voorberei.

Sy demonstreer ʼn heerlike bief-en-uie-bredie wat in ʼn uitgeholde pynappel bedien word. Die vleis word in ʼn koppie sjerrie geweek en geprut totdat dit ʼn tameletjie voorkoms het. Dit word uiteindelik by die vleis-en-uiemengsel ingeroer en dan alles saamgeprut. Bo-op sit sy blaardeeg wat vooraf uitgerol en gebak is. Sy het sy ook ʼn potbrood gemaak wat sy met pynappel, chakalaka en room gegeur het. Pynappelblatjang, -jêm, -bier, ʼn pynappel en hoenderwrap en selfs sjerrie van dié vrug het almal ʼn plekkie op die tafel gekry. Heerlik! Maar, ongelukkig vir Paul het die tyd nie stilgestaan nie en moes hy nog ons storie klaar vertel. ʼn Inwoner van die dorp, Mervyn Jones het aangebied om hom op ʼn inligtingstoer te neem. Gelukkig het Sylvia aangebied om sy kos vir hom warm te hou vir later. Kliek hier vir die bredieresepte.

Die Pig & Whistle Hotel is in 1932 gebou deur Thomas Hartley. Hy was ʼn grofsmid wat van Nottinghamshire in Engeland af gekom het. Dit was toe bekend as die Bathurst Inn en volgens legende is dit herdoop na The Pig & Whistle deur die manne van die nabygeleë 43 Lugskool in Wêreldoorlog II.

ʼn Pragtige kliphuis genaamd Morley House is in 1828 ook deur Thomas Hartley gebou. Dit is gelukkig nie in die grensoorloë beskadig nie. Anders as ander Suid-Afrikaanse huise, front dié een suid soos huise in Engeland. Maar, soos dit ʼn goeie dorpie betaam, is hier ʼn mooi ou kerkie.

Die St John’s Anglikaanse kerkie is die oudste onveranderde Anglikaanse kerk in Suid-Afrika. Dit is in die grensoorloë van 1834, 1846 en 51 deur honderde setlaars as vesting gebruik. Wat sy ware funksie betref, is die eerste diens op 1 Januarie 1838 hier gehou.

ʼn Ander besienswaardigheid in die dorp, is die landboumuseum. Dit is in 1970 gestig om die landbou-erfenis in die Oos-Kaap te bewaar. Die dertig items waarmee hulle begin het, het gegroei tot 1400. Jon Peters het Paul se dorpsarms uitgetoets op ʼn ysterwieltrekker wat aan die brand gedraai moet word met ʼn slinger. Paul besluit hy weet na dese hoekom boere sulke gawe arms het want hy kon hom nie aan die gang kry nie!

Jon sit hom ook op ʼn tweesilindertrekker wat met petrol begin en dan oorskakel na kragparaffien as hy warm is. Ses van hulle is tussen 1939 en 1947.

Na dié les, het Paul ʼn ander pad gevat. Hy is net buite Bathurst na die Waters Meeting Natuurreservaat. Dit is in 1897 tot woudreservaat verklaar wat dit een van die oudste beskermde gebiede in die Oos-Kaap maak. Die rede was volgens Shepherd Mpengesi om bome soos die melkhout en olyfboom te bewaar wat gewilde heinings en braaihout word. In die suidelike deel van die reservaat vloei die Kowierivier met die Hayward dam in die middel. Paul het na die naam gevra en Shephard verduidelik dat dit afkomstig is van die seewater en vars water (van die Kowierivier) wat hier bymekaar kom.

Hierna het hy op die Kowierivier gaan kano ry. Volgens André Smit – die mede-eienaar van Adventure Centre – behels dié vaart 21 km per dag vir twee dae. Hy raai aan dat ʼn mens die getye in gedagte hou as jy hier roei. Langs die rivier is ook staproetes en ander aktiwiteite wat besoekers gerus kan probeer. Daar is kampplek en blykbaar is dit een van dié wonderlikste voëlkyk-ervarings in die land.

Paul het gehoor dat hengelaars gereeld hier reuse-krappe vang en dus doen hy sy bes om regop in die kano te bly! Meer oor die krapgedoentes in ʼn volgende program!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Die Pig and Whistle Hotel
Tel: 046 625 0673
Webtuiste: www.pigandwhistle.co.za

Waters Nature Reserve
Tel: 046 625 0876

Adventure centre
Tel: 046 624 4432

Mervynne Jones
Tel:046 625 0646

Jon Pieters
Sel: 083 271 3481

Buks Marais
Tel: 046 625 0737





Kliek hier om ons kookboek te bestel