Pasella SABC2
Wen 'n oulike resepteboek te danke aan Exclusive Books se 'Winter Sale'. Beantwoord hierdie maklike vraag oor Amor se resep van die week.

Kry die kompetisie besonderhede hier
Piesangbroodjie gesondheid
Piesangbroodjie gesondheid ››
Stuur jou resep Stuur jou resep vir ons en ons plaas dit op ons Kykersresepte.
Gee 'n skemerkelkie 'n mooi randjie
Gee 'n skemerkelkie 'n mooi randjie ››
Stuur jou onthaalidees Stuur jou onthaalidees vir ons en ons plaas dit op ons Kykers-
onthale
 
2091-4850-0-0_1748332

Deur Maurice Carpede

 

Dit is vir my 'n absolute wonderlike voorreg om deel te wees van so 'n dinamiese span hier by Pasella. Ek sien uit daarna om meer gereeld in jou sitkamer te kom kuier elke Woensdag aand en om vir jou stories te bring van mense en gebeurtenisse van oral oor.

 

Ek is gebore in Ficksburg in die Oos Vrystaat, maar het grootgeword in Bloemfontein. My skooljare het ek voltooi aan die Senior Sekondêre Skool Dr Blok in Heidedal. Vir 'n jaar lank na skool was ek 'n onderwyser aan 'n skool in Barkly Wes in die Noordkaap. Dit was een van die jare wat my altyd sal bybly, omdat ek soveel vreugde gekry het uit 'n klomp jongmense wat so ywerig was om kennis in te neem. Maar ten spyte van die pret en vreugde daar, het ek geweet ek is nie uitgeknip vir klaskamers nie. Ek het al gedurende my laerskool dae agtergekom dat ek eintlik in die vermaaklikheidswereld behoort. En die besef het op 'n baie vreemde manier gekom.

 

Ek het een jaar deelgeneem aan 'n skooldrama, maar was op die nippertjie om tou op te gooi omdat ek dit verskriklik moeilik gevind het om die dialoog geleer te kry. Maar ek was nie die enigste wat daarmee gesukkel het nie. Dit was so erg dat die onderwyser, Mev Wilsenach, wat natuurlik ook die regisseur was, ons voor 'n keuse geplaas het. Gaan ons voort met die toneelstuk of gaan ons die handdoek ingooi so kort voor die konsert?

 

Sy het aan die een kant van die repetisie lokaal, wat eintlik die personeelkamer was, begin en aan elkeen van ons die vraag gestel. Voortgaan of nie? Soos sy met die lyn afbeweeg het was byna almal se antwoord NEE. Sy het begin huil en hoe meer almal sê nee, hoe meer was haar trane. Teen die tyd dat sy by my gekom het was sy al so in trane dat ek jammer gevoel het vir haar en sommer so half teen my wil besluit ek sal voortgaan. Maar dit was seker die beste besluit ooit, 'n besluit wat my hele lewe verander het. Dit was daardie besluit wat die deure na die vermaaklikheidswereld vir my oopgemaak het.

 

Gedurende my hoërskool jare was ek betrokke by 'n amateur toneelgeselskap, HEIDRAM, wat gereeld aan kompetisies en feeste deelgeneem het. Dis juis by hierdie kompetisies waar ek 'n paar toekennings ontvang het, onder andere 'n ATKV-penning vir beste akteur. Later, terwyl ek by SUKOVS (ek dink deesdae is dit net PACOFS) gewerk het, is ek ook bekroon met die Cobus Rossouw Toekenning vir die Mees Belowende Jong Akteur, en het ook 'n Vita nominasie gekry vir Beste Akteur in die Vrystaat.

 

Van my gunsteling rolle wat ek op die verhoog vertolk het by SUKOVS sluit in Athol Fugard se My Children My Africa en Boesman En Lena, asook Bessie Head se Maru. Dan was daar natuurlik ook kinderteater wat my groot vreugde gegee het. Voor die kamera was die rol van Lukas Phiri in "Voete Van Goud" vir my baie spesiaal. Dit was immers my heel eerste TV rol. Miles Masilo in "Generations" was ook 'n heerlike rol om te vertolk. Soldaat in "Feast Of The Uninvited" het my die geleentheid gebied om met van die groot name in die bedryf te werk. Katinka Heyns, Koos Roets, Marius Weyers, Anna-Mart van der Merwe en vele ander. Dit was nou (excuse the pun) 'n regte fees gewees. Die rol van Dawid Verwey in die Nederlandse ko-produksie "Stellenbosch" wat hier in Suid Afrika op SABC 3 uitgesaai is, was ook net so 'n fees.

 

My passie en liefde vir radio is iets wat ook al van my matriek jaar af gekom het en op universiteit het ek die geleentheid gekry om daardie deel van my te begin uitleef. En ek doen dit steeds elke dag met oorgawe op JACARANDA 94.2. Ek dink die feit dat die luisteraars met hulle stemme daarvoor gesorg het dat ek in 2008 die ATKV Media Veertjie ontvang het vir Gunsteling Radio Aanbieder, spreek boekdele van my liefde vir radio. Nogmaals dankie vir elkeen wat vir my gestem het.

 

Die ander groot passie in my lewe is fotografie. Maar die is iets wat ek eers redelik onlangs begin beoefen het so ek gaan nie nou myself veel daaroor uitlaat nie. Al wat ek kan sê is ek geniet dit vreeslik baie. Ek is juis nou besig met so 'n paar deeltydse klasse by die National School Of Photography. Ek dink nie ek sal ooit 'n Ansel Adams of Annie Liebowitz of 'n Ken Oosterbroek word nie, maar ek dink ek het genoeg talent om ten minste myself 'n regte "happy snapper" te kan noem.

Charlene Truter
Het jy onlangs een van ons aanbieders iewers gesien? Stuur vir ons jou foto!
› Meer oor: waar is ons aanbieders
Pasella op Twitter Pasella op Facebook
Stem en Wen
Die gunsteling insetsel sal weer op die webblad te sien wees.
Wat was hierdie week jou gunsteling insetsel?
Goegap se fonteine
Ossewaens bo!
Koms ons maak pakplek
KwaZulu-Natal Wyn van Oorsprong
Ons draai by akteur Stian Bam
Naam:
ePos:
Stem nou Stem uitslae
 
Terme en voorwaardes | Privaat beleid | Kontak ons
Kopiereg © 2010 Pasella  |  Ontwerp deur  Website design and development