|
Deur Paul Rothmann
Ek is gebore in Tel Aviv in Israel waar my ouers in die diplomatieke diens was. Op 1 jaar het ons na Argentinië verhuis waar ons nog vier jaar gewoon het.
Terug in Suid-Afrika, het ons in Pretoria gevestig waar ek aan die Afrikaans Hoër Seunskool gematrikuleer het. Ek was nog altyd mal oor sport en op skool het rugby, swem en 'n bietjie karate my lewe vol gemaak. Daarna het ek op die Kibbutz in Israel gaan werk en bewus geword van my passie vir die vreemde – hetsy interessante kos, mense of plekke.
In 1997 begin ek by Tukkies B.Com Regte swot en ontdek Volkontak Thaiboks. In my finale jaar word ek gekies as die Patrick Daniel – Model of the Millennium. Dit het my lewe natuurlik verander en dis ook toe dat ek aanbieder op Pasella geword het.
Sedertdien het ek my LLB graad voltooi en iewers tussenin ook die WPKA Afrika en toe WPKA Węreld Swaargewig Professionele Volkontak Thaiboks-titel gewen. My broer, Sebastiaan Rothmann het byna terselfdertyd die IBO en WBU Węreld Kruisergewig-Titel verower en 6 keer suksesvol verdedig.
In Januarie 2007 is ek op onkonvensionele wyse in Indië getroud - na 'n 7 jaar lange, onvoorspelbare avontuur met my vrou, Monique Joubert. Ons bly tans in Pretoria op 'n kleinhoewe.
Behalwe my werk by Pasella, is ek regsadviseur by SEESA (Small Enterprise Employers of South Africa) wat een van die grootste arbeidsregkonsultantfirmas in Suid Afrika is. Tussenin volg ek my groot passie, naamlik om by skole en besighede te praat oor die 'Strewe na meer in die Lewe'. Die seminaar staan bekend as, Discover the Warrior Within, en dit bestaan uit 3 afdelings, naamlik: 1.'n Bespreking oor Waardestelsels vir 'verhewe' besluitneming 2. 'n Interaktiewe selfverdedigingskursus 3. Beginsels vir die vorming van 'n lewensstrategie
Uiteindelik streef ek daarna om die węreld 'n beter plek te maak...en of ek sukses behaal of nie, ek glo dat ek in die proses self sal groei en dit maak dit alles die moeite werd.
|