|
Deur Vicky Davis
Na ’n produktiewe tydperk in Johannesburg is ek gelukkig om weer terug te wees in die Kaap as vryskut aktrise, waar ek met groot opgewondenheid by die Pasella-span aangesluit het as aanbieder.
Ek geniet my nuwe pos gate uit en voel baie gemaklik voor, en welkom agter, die Pasella-skerms. Om deel te wees van een van die gewildste en insiggewende programme op TV is waarlik ’n voorreg. En om boonop elke week SA se interessantste plekke, mense en dinge te kan ontdek en te deel met die res van die land, is vir my ’n uiters vervullende ervaring wat my passie vir stories en my liefde vir avontuur voed.
Ek is gebore in die Kaap en het grootgeword in die Boland waar ek op Somerset-Wes skoolgegaan het. My ouers, albei eertydse joernaliste, het van vroeg af my liefde vir die kunste aangemoedig. Na skool is ek Universiteit Stellenbosch toe waar ek ’n BA- graad in Drama en Tale (Eng) en ’n honneursgraad in Drama (Regie) met Afrikaans en Nederlands, verwerf het. Een van my hoogtepunte as student was toe ek ’n Fleur du Cap teatertoekenning ontvang het as mees belowende student, en die US Drama toekenning vir beste aktrise.
In 2004 verhuis ek Johannesburg toe en vertolk die rol van dramalektor, Miss A, in die sepie, Backstage. My teatergeselskap, Tart en Koggel, toer ook die kunstefeeste en wen daardie jaar die Aardklop Aardvark-toekenning vir mees innoverende toneelstuk, Skroothonde, geskryf deur Willem Anker. In 2005 speel ek die omstrede wynboukundige, Klaradyn Kok, in die dramareeks Known Gods en behartig die regie van my eksperimentele toneelstuk Wieditgedoen by die KKNK. In 2006 sluit ek aan by die rolverdeling van 7de Laan as Bart (Neil Sandilands) se tragiese geliefde, Tessa Krige.
In 2008 verlaat ek 7de Laan na twee goeie jare en keer terug Kaap toe waar ek die rol van Kate McDonald in die Kunstekaap teaterproduksie van Kringe in ’n Bos vertolk. Ek speel ook die hoofrol in regisseur Tamsin McCarthy se weninskrywing van Paulo Coelho se wêreldwye filmkompetisie as die karakter Andrea McCain, in die filmweergawe van sy roman The Witch of Portobello. Verder vertolk ek ook ’n kleiner rol in die Britse prent Endgame, wat handel oor die vrylating van Nelson Mandela met William Hurt in die hoofrol.
In 2009 is ek te sien as aanbieder van die realiteitsreeks Die Laaste Wals. By die KKNK behartig ek saam met Schalk Joubert die regie van sy solo jazzvertoning Wêrelde, wonders en wysies. Ek begin ook binnekort aan ’n VSA/SA Bollywood movie, genaamd Florida Road, skiet wat in Durban verfilm sal word en plaaslik by Nu Metro op die groot skerm sal draai.
Behalwe aanbieding en toneelspel, is my ander groot liefde skryf. Ek was al joernalis vir Litnet, kopieskrywer vir Mxit en ’n draaiboekskrywer vir die realiteitsreeks, It’s for Life. Ek skryf ook gereeld opvoedkundige tekste vir TV en teater waarvan my MIV/Vigs-bewusmakingswerk saam met die Africa Centre for HIV/Aids Management aan die Universiteit Stellenbosch my die naaste aan die hart lê. Dit maak my baie bly om te weet my opvoedkundige toneelstuk, Lucky the Hero, word nou reeds byna vyf jaar deur die Africa Centre voor plaasgemeenskappe van die Boland en omliggende gebiede opgevoer. Ek is ook lief vir kreatiewe skryfkuns en kombineer graag my belangstelling in literatuur en film – ek is tans besig om ’n filmverwerking van André P. Brink se roman, Orgie, saam met M.I.A. Films te ontwikkel as draaiboekskrywer en medevervaardiger.
Wanneer ek ’n blaaskans kry (en klaar my Facebook gecheck het…) bring ek tyd in die buitelug deur – ek doen graag rotsklim en het onlangs begin bergfiets ry. Verder speel ek ook action netball en wil graag perdry opneem (ek het alreeds ‘n paar lesse op Pasella gehad!). Ek is ook baie lief vir reis en vir diere (ek het selfs al ’n kursus in dierekommunikasie geloop) of om sommer net te lees of lekker te kuier en te besin oor die lewe saam met die mense vir wie ek lief is. Van alles koester ek kennis, privaatheid, kreatiwiteit, regverdigheid, liefde en my sin vir humor (ge-erf van my pa) die meeste in die lewe.
My leuse? “Fortune favours the brave!”
|