KLOK: Clocolan se skoonheid roep PDF  Array Afdruk Array  E-pos

Ons maak ʼn draai in Clocolan...kom kuier saam.

Kersieblatjang


Ry jy op die R26 ongeveer 35 km wes van Ficksburg, kan jy begin uitkyk vir Clocolan. Die dorp is in 1906 uitgelê op twee plase genaamd Rienzi en Harold. Verder terug was die eerste Suid-Sotho-mense wat hier gevestig het, die Kwena van kaptein Mohlomi. Dié omliggende berge het nie verniet ʼn ‘veg’-konnotasie nie, want Clocolan maak deel uit van ʼn stuk land wat in die vroeë 1800’s in oorloë van Lesotho gewen is. Sedert die 1850’s het wit setlaars boerderye begin en vandag is dit bekend vir koring, mielies, bees, skaap en ook kersieplase. Tant Elsie Grobler woon sedert 1963 hier en was lank munisipale raadslid.

Sy wys vir Paul die oudste huis in die dorp wat in 1911 gebou is en dan die stadsaal wat uit 1916 dateer. Destyds is formele funksies en politieke vergaderings in die stadsaal gehou en dit is oor naweke as bioskoopteater ingespan. Hier is ook al vele fondsinsamelings gehou en dit was vroeërjare glo altyd ‘grênd affêringtes’. Tant Elsie sê sy het nog van die wonderlike uitrustings waarmee dié formele byeenkomste bygewoon is. Vandag word dit as kerk ingespan. Net ʼn jaar na die stadsaal, is die Anglikaanse klipkerkie met sy beskilderde Gotiese vensters gebou. Vanweë sy ontwerp is daar sprake dat dit moontlik ʼn Herbert Baker-meesterstuk kan wees, maar daar is nie bewyse voor nie.

Hierna woel Paul na ʼn wolplaas. Die plaas se naam is Makoadi wat beteken die ma van Koadi wat ʼn Sesotho-koning was. Annemarie en Mundus Joubert boer sedert 1992 met Angora hasies wie se hare uitgekam en gebruik word vir allerlei produkte. Die hasies verloor natuurlik hare en die los hare word gewoon uitgekam sonder dat hulle seergemaak word.

Om een trui te brei gebruik hulle gemiddeld 300 gram wol, dit beteken een trui per hasie per jaar. Die plaas oes jaarliks sowat 90 kg hasiehare en gebruik net die beste vir hul truie en minder dik items. Oorblywende oftewel kloswol word vir dikker items soos sokkies en lang, warm onderbaadjies gebruik.
Paul het intussen gegroet en die dames gelos om al singende hul werk te verrig en na die plaas Umpukane gaan soek. Hulle stuur tussen November en April daagliks of elke tweede dag lelies, varkore en sandersonias na die mark in Johannesburg. Mede-eienaar en blombestuurder van 10 jaar, Peet van Rooyen, sê dat dit uiters belangrik is dat die blomme reg hanteer en verpak moet word. Daarvoor is 20 vroue spesiaal opgelei. Die stele word in lengtes van 50, 60 en 70 cm gesorteer, gesny en in bondels van tien mark toe gestuur.

Jy kan die blomme se 10-daelewe verleng deur die stele effens korter te knip en elke tweede dag vars water in te gooi.

Drie kilometer van Clocolan af in Ficksburg se rigting, roep ʼn paar vrolike baalgesiggies jou nader na die Constantia Padstal. Hier word allerlei byprodukte van kersies gemaak en verkoop. Dis hul eie plaas se kersies, maar die omgewing is natuurlik bekend daarvoor. Jaarliks in November word ʼn groot kersiefees in Ficksburg aangebied. Paul het natuurlik die kans vir proe nie laat verbygaan nie. Hulle wys hom ook hoe om kersieblatjang te kook.

Kliek hier vir die resep.

Dis nogal ʼn storie want die kersieseisoen duur net ses weke van ongeveer 15 Oktober tot vroeg Desember en dan moet al hierdie produkte gemaak word. Van konfyt tot amandelkersies in suikerstroop, ingelegdes, ander wat in likeur verdrink, roomyssous en nog ʼn horde ander lekkertes.

Sedert 1989 is een van Clocolan se jaarlikse hoogtepunte hulle Veteraan-trekker- en enjinskou. Dit word beplan vir die naweek van 4 tot 6 Maart en dus kan jy nog bywoon. Gedurende die skou kom trekkers van heinde en verre en word volgens klasse beoordeel. Dit geskied die Donderdag en op Vrydag word die trekkers deur die strate geparadeer.

Skoutyd beteken ook dat die nasionale ploegkampioenskappe gehou word en jy kan net dink hoeveel pret dit afgee. Dit sorg vir groot opwinding as ʼn 1902-dorsmasjien byvoorbeeld aan die gang kom en wys hoe hy vroeërjare mielies verorber het.

Rares wat jy hier kry, is ʼn Hart-parr wat uit 1936 dateer en ʼn 1923 Fordson-F. Ons kyk ook na ʼn John Deere H uit 1939 wat vir groenteboerderye gebou is.

Met die skou word daar wraggies ook met hierdie trekkers ‘musical chairs’ gespeel en, soos die papegaai in die grappie sê, al breek jy jou nek, dit moet jy aanskou.

Dankie Clocolan vir ʼn heerlike kuier. Mag julle Veteraan trekker-en-enjinskou vanjaar weer eens ʼn reuse sukses wees!

PASELLA Sê DANKIE AAN

Paul se klere: Markham

Die Plaashuis
9, 2de Laan Oos, Clocolan
Tel: 051 943 0021
Faks: 051 943 0218
Epos: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
www.clocolan.co.za

Makoadi Plaas
Tel/Faks: 051 943 0273

Umpukane Flora
Tel: 051 943 7000
Faks: 051 943 7007
Epos: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
www.umpukane.co.za

Constantia Kersie Padstal
Tel: 051 943 7180
Faks: 051 943 7181
Epos: Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien

Oos-Vrystaat Veteraan Trekker en Enjin Klub (OVTEK)
Tel: 051 943 1929

Elsie Grobler
Annemarie Joubert
Modiei Letsatsi
Peet van Rooyen
Alina Kashe
Gwynet Higgo
Katrina Lothane
Coenie de Beer
Frannie Pieterse
Koos Strydom
Sakkie Schutte
 

Nuusbrief

RocketTheme Joomla Templates