


Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Lam- en kruisementpastei
(maak 10 pasteie)
Tydens Pasella se kuier in Springfontein, 'n piepklein dorpie in die Vrystaat, het Shelton Staples van die Kuilfontein Gastehuis en Padstal hierdie lamspastei vir Pasella voorberei. Shelton is 'n gekwalifiseerde sjef wat aan die Kulinêre Akademie in Kaapstad gestudeer het. Sy spesialisveld is tuisgebakte pasteie en dus kan jy jou net indink hoe hierdie een smaak!
100 g koekmeel
sout en peper na smaak
2 e paprika
1 kg lamsboud, ontbeen en in blokkies gesny
1-2 e olie, vir braai van bestanddele
4 lourierblare
5 uie, geskil en in klein
blokkies gesny
2 bossies seldery, in blokkies gesny
6 medium wortels, geskil en in blokkies gesny
5 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
25 g tamatiepasta
3 koppies droë rooiwyn
20 vars kruisementtakkies, fyngekap
5 liter lamaftreksel
1 kg blaardeeg
1 eier, geklits
Vir die vulsel
Geur die koekmeel met sout, peper en paprika, en voeg die blokkies lam by. Bedek die lam goed met die meelmengsel en verwyder dan oortollige meel. Verhit die olie in 'n groot swaarboomkastrol tot dit rookpunt bereik. Verbruin die blokkies lamsvleis, verwyder van die pot en plaas eenkant.
Voeg die lourierblare, uie, seldery en wortels in dieselfde pot en soteer tot goudbruin. Voeg die knoffel by, braai vir 'n paar sekondes en voeg dan die tamatiepasta by. Soteer die mengsel vir 'n verdere 2 min voor die rooiwyn bygevoeg word en die mengsel tot kookpunt gebring word.
As die alkohol van die wyn verdamp het, voeg
die gebraaide lamsvleis saam met 1 t van die kruisement en al die lamaftreksel by. Verlaag die hitte en plaas die deksel op. Prut vir ± 1½ tot 2 ure, tot die lamsvleis sag is. Verwyder die vleis, en kook die orige sous totdat dit lekker dik is. Proe en voeg nog sout en peper by indien nodig. Voeg dan vleis en die res van die gekapte kruisement ook by die verdikte sous. Plaas in die koelkas (dit maak die vulsel makliker om te hanteer wanneer die pasteie gemaak word).
Vir die pasteie
Voorverhit die oond na 180º C.
Spruit 10 mediumgrootte foelie-pasteihouers met nie-kleefsproei. Rol die blaardeeg 2 mm dik uit en sny in sirkels met 'n ronde deegsnyer (die sirkels moet ± 5 mm groter as die bo-punt van die pasteihouer wees). Hou die oortollige stukke deeg eenkant.
Vul elke pasteihouer met 'n deeg-sirkel en skep sowat 100 g van die vulsel in elk. Rol die oortollige blaardeeg bietjie dunner uit (± 1 mm) as die basis en sny in sirkels (± die grootte van
die bokant van die pasteihouers) - hierdie sal as 'deksels' vir die pasteie dien. Verf die rande van die pasteie met water en plaas die deksels bo-op. Seël met 'n vurk en verwyder enige oortollige deeg met 'n skêr. Verf die pasteie met die geklitste eier en bak 30-45 minute.