

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Spek-en eier-croustades
(bedien 6)
Die resep is van Letitia Prinsloo. Sy is die stigter en prinsipaal van die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch wat ook onlangs die L'Olive Restaurant in die dorp oop gemaak het. Die dis het deel gevorm van ʼn program waar sy en sjefdosent Carol Weideman ons ʼn paar wenke gegee oor hoe om oorskietbrood in resepte te gebruik.
6 x 3 cm dik snye brood, korsies verwyder
2 e botter, gesmelt
2 stukkies swoerdlose spek, gekap
6 eiers
2 tamaties, gekap
sout en peper na smaak
Verhit die oond tot 180 °C. Hol die snye brood uit met ʼn skerp messie om ʼn klein bakkie te vorm. Plaas die brood-bakkies op ʼn bakplaat en verf met gesmelte botter. Bak 7-10 minute tot goudbruin. Braai die spek 2-3 minute tot bros en dreineer. Breek ʼn eier in elke brood-bakkie, sprinkel met spek en tamatie en geur met sout en peper. Bak 5 – 7 minute in die oond tot die eierwit gestol is en die res van die bestanddele goed warm is. Bedien dadelik.