

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Tamatiesop – “Papa Al Pomodora”
(bedien 6-8)
Dié 'Papa Al Pomodora' of Tamatiesop, is nie net maklik nie, maar hemels. Een van ʼn paar resepte wat deur Letitia Prinsloo, die stigter en prinsipaal van die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch, voorberei is. Dit was vir ʼn program waar sy gewys het hoe om ou brood te omskep in smulkos.
3 e olyfolie
4-6 huisies knoffel, gekap
1 groot ui, gekap
2 x 410 g blikkies klein heel tamaties
1 L hoenderaftreksel
250 – 300 g growwe broodkrummels
1 x 410 g blikkie cannellini boontjies
sout en varsgemaalde peper na smaak
2
groot tamaties, gekap
10 vars basiliekruidblaartjies, geskeur
125 g Parmigiano reggiano-kaas (parmesaankaas*)
Verhit die olyfolie in ʼn groot kastrol en braai die knoffel en uie tot goudbruin. Voeg die ingemaakte tamaties, hoenderaftreksel, broodkrummels en boontjies by. Geur met sout en peper. Prut ongeveer 30 minute tot ʼn dik, bredieagtige sop. Roer die varsgekapte tamatie by en verhit. Bedien met vars basiliekruid en kaas.
*Jy kan ook cheddar gebruik.