


Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Oondgebakte salm met brandrissiesalsa en skordolia
(bedien 6)
Pasella het vir Letitia Prinsloo van die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch gevra om 'n paar wenke te gee oor hoe om die stapelvoedsel brood 'n fynproewersmantel aan te trek. As hoofgereg het Letitia hierdie dis voorgestel.
6 porsies salmfilette
sout en varsgemaalde swart peper na smaak
4 snye brood, fyngekrummel
30 ml botter, gesmelt
2 e komynsaad, fyngedruk met 'n vysel
Verhit die oond tot 180 ° C.
Geur die vis met sout en peper. Meng die broodkrummels, gesmelte botter en komynsaad en druk die mengsel bo-op
die vis met die palm van jou hand. Plaas op 'n bakplaat en bak in die oond tot gaar maar nie droog nie (ongeveer 8 minute). Bedien met salsa en skordalia.
Vir die salsa:
1 tamatie, in blokkies gesny
2 e gekapte pietersielie
1 brandrissie, wit pitjies verwyder en fyngekap
1 knoffelhuisie, gekneus en gekap
gerasperde skil en uitgedrukte sap van een suurlemoen
2 e olie of olyfolie
1 e asyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Meng al die bestanddele saam en hou eenkant tot benodig.
Vir die skordalia:
5 snye brood, korsies verwyder
6-8 knoffelhuisies
2 e suurlemoensap
1 - 2 e gekapte pietersielie
± 75 ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Week die brood in water, dreineer met 'n sif en druk die water uit. Plaas in 'n bak. Room die knoffel tot baie fyn en voeg by die brood. Voeg die suurlemoensap en pietersielie by en verwerk die mengsel met 'n handmenger tot glad. Voeg net genoeg olie in 'n dun straaltjie by om 'n dik, mayonnaise-agtige emulsie te vorm. Geur met sout en peper.