

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Hoenderbroodjie
(bedien 6)
Pasella het gaan uitvind hoe om oorskietbrood in resepte te gebruik om smuldisse te maak. Letitia Prinsloo, prinsipaal en stigter van die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch, het hierdie hoenderbroodjieresep opgedien. Bedien dit met heerlike kruie-mayonnaise!
50 g botter
250 g vars broodkrummels
300 ml melk
4 eiers geskei
2 uie, grofgekap
2 e olyfolie
2 e gekapte pietersielie
2 e gekapte grasuie
2 e korrelmosterd
500 g gaar hoender, gekap
1½ e suurlemoensap
sout en swartpeper na smaak
Verhit die oond tot
180 °C
Smelt die botter in ʼn groot kastrol, voeg die broodkrummels by en braai effens. Voeg die melk by en bring tot kookpunt. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Klits die eiergele en voeg by die melk- en broodmengsel. Meng goed. Braai die uie in die olie tot goudbruin en voeg by die broodmengsel. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die eierwitte by die broodmengsel en geur met sout en peper. Klits die eierwitte styf en vou versigtig in die mengsel in. Skep in ʼn gesmeerde broodpannetjie en bak 30-40 minute tot gestol. Laat effens afkoel en keer uit op ʼn warm bord. Bedien met kruie-mayonnaise.
Kruie-mayonnaise
½ koppie mayonnaise
3 e Franse slaaisous
4 e suur- of vars room, of jogurt
1 t droë mosterd
zest en sap van een suurlemoen
2 e gekapte pietersielie
1 e gekapte kruisement
1 e gekapte grasuie
Meng alle bestanddele saam en hou in yskas tot benodig.