

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Sout brood-en-botterpoeding met ʼn kaaskors
(bedien 6)
Carol Weideman is die afgelope 5 jaar permanent besig om heerlike disse te maak. Sy het by die Zevenwacht Sjefskool studeer en onlangs by die L'Olive Restaurant in Stellenbosch aangesluit. Carol het vir Pasella Sout brood-en-botterpoeding voorberei. Dit was vir ʼn Pasella-program waar ons nuwe planne met ou brood gemaak het.
6-8 snye brood, korsies verwyder
botter, vir smeer van brood
200 ml melk
100 ml room
4 eiergele
1 e gekapte sprietuie
1 t vars tiemie
3 groot uie, in ringe gesny
50 g botter
1-2 e
bruinsuiker
1-2 e bruin asyn
200 g gerookte spek
200 g gerasperde parmesaan-kaas
sout en varsgemaalde swart peper
Verhit die oond tot 180 °C
Smeer die brood met botter en sny elk in 4 driehoeke. Pak die gesmeerde broodjies in ʼn gesmeerde bakskottel met hul puntjies na bo. Bring die melk en room tot welpunt en laat effens afkoel. Meng die eiergele, sprietuie en tiemie saam. Voeg die melkmengsel stadig by die eiergeelmengsel. Braai die uieringe in die botter tot goudbruin. Voeg die suiker en asyn by en braai versigtig tot gekarameliseer en effens taai. Snipper die spek en braai tot bros. Skep die spek en gebraaide uie oor die brood en gooi ook die eier-vlamengsel oor. Sprinkel met kaas en bak 20-30 minute tot goudbruin en gestol. Bedien met oondgeroosterde kweperskywe en harde kaas.