


Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Gebakte sjokoladepoeding
(bedien 6)
Carol Weideman, van die L'Olive Restaurant in Stellenbosch het hierdie nagereg vir Pasella opgedien. Carol, al 'n ou hand in die kombuis is ook 'n dosent by die Institute of Culinary Arts en het vir Pasella wenke gegee oor hoe om oorskietbrood in blink geregte te omskep.
Sjokoladevla*
1 dag oue brood , in dik snye gesny en korsies afgesny
1-2 pakkies sjokoladelekkers**, van jou keuse
Verhit die oond tot 180 °C.
Berei 6 oondvaste bakkies voor deur dit met botter te smeer. Week die snye brood in sjokoladevla en voer dan elke bakkie uit met die geweekte snye
brood. Plaas een of twee sjokoladelekkertjies in die middel van die broodbakkie en plaas 'n brooddekseltjie bo-op elk. Bak 10 minute in bain-marie in die oond tot gestol. Verwyder uit die oond, keer uit en bedien dadelik.
*Sjokoladevla
2 koppies volmelk
80 - 100 g donker sjokolade, gekap
5 eiergele
60 g strooisuiker
1 t vanieljegeursel
Verhit die melk tot net voor kookpunt. Voeg die gekapte sjokolade by die melkmengsel en roer tot die sjokolade gesmelt is. Klits intussen die eiergele en suiker saam tot lig en donsig. Voeg die melk- en sjokolademengsel geleidelik by en meng goed. Giet die mengsel weer terug in 'n skoon kastrol en verhit oor lae hitte. Roer deurentyd tot die sous begin verdik. Verwyder van die hitte, en hou aan roer tot die sous begin afkoel. Voeg die vanieljegeursel by. Moenie die sous oorverhit nie, dit skif baie maklik.
**Carol gebruik sjokoladelekkers met 'n toffie in die middel.