TUIS
Russiese resepte

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!

Russiese vleisballetjies
(maak 36)

9 snye dagoue brood, korsies verwyder
1 kg beesmaalvleis
3 klein ue, fyngekap
1-2 t sout
1-2 t swart peper
20 ml karwysaad
20 ml worcestersous
3 eiers, geklits
200 g gesifte droë broodkrummels
120 ml ongesoute botter

Week die brood in 'n bietjie koue water, druk droog. Plaas die beesmaalvleis in 'n groot bak en meng die stukkies nat brood goed in. Daar moet geen klonte in wees nie. Voeg die uie, sout, peper, karwysaad en worcestersous by. Voeg die eiers by en meng goed. Rol die mengsel met klam hande in omtrent 36 vleisballetjies van dieselfde grootte.. Rol die balletjies in droë broodkrummels. Verhit die botter en braai die vleisballetjies daarin tot bruin. Bedien dadelik.

Vodka-rosatamaties
(bedien 12)

500 g rosatamaties
1 k goeie kwaliteit vodka
growwe swartpeper, na smaak.
500 g growwe sout

Maak 'n kerf in elke tamatie, plaas in ʼn plat bak en gooi die vodka oor. Geur met peper. Laat ongeveer een uur marineer. Haal dan die tamaties uit die marinade en bedien op growwe sout met tandestokkies.

Hoendersosaties
(maak 12)

75 ml botter
4 hoenderborsies, in blokkies gesny
2 e warm Vodka
sout & peper, na smaak
1 e meel
1 knoffelhuisie, fyngekap
½ t droë pietersielie
1 e Tamatie pasta
190 ml hoender aftreksel
375 ml suur room
60 ml gekrummelde fetakaas
12 Bamboo-stokkies

Voorverhit die oond by 180 ºC. Smelt die botter in ʼn pan en braai die hoenderblokkies daarin. Wanneer dit amper gaar is, gooi die Vodka by en wag tot die hoender bruin is. Geur met sout en peper en wanneer dit koud is, ryg in op die sosatiestokkies en plaas op 'n bakpan. Gooi nou die meel in die oorblywende sous in die pan en roer totdat dit opgelos is. Nou kom die knoffel, pietersielie, tamatiepasta, hoenderaftreksel en suurroom by. Laat dit prut totdat die sous lekker dik is en gooi ook die sosaties in die bakpan. Bak 20 min.

Gerookte-salm-blini’s
(Maak 24)

Blini*:
1 koppie selfrysmeel
2 eiers, liggies geklits
½ koppie melk
1 e suurroom

Bolaag:
½ koppie suurroom
2 e mayonnaise
2 e suurlemoensap
1 e grasuie, fyngekap
1 e kruisement, fyngekap
125 g gerookte Noorweegse salm, in repe gesny

Sif die meel in 'n mengbak en maak 'n holte in die middel. Voeg die eiers, melk en suurroom by en meng tot die deeg egalig en sonder klonte is. Laat dit staan vir 10 minute. Verhit olie of botter in 'n pan. Plaas die mengsel teelepelgewys in die pan. Wanneer lugborrels op die oppervlakte vorm, draai die blini's om en bak aan die ander kant vir ongeveer 'n minuut. Verwyder van die pan en plaas eenkant. Vir die bolaag, meng die suurroom, mayonnaise, suurlemoensap, grasuie en kruisement.
Plaas 'n lepelvol van die suurroommengsel op elke blini. Rond af met 'n sny gerookte salm en garneer met kaviaar of kappertjiesaad.

* ‘n Blini is ‘n klein pannekoekie en lyk soos ‘n plaatkoekie.

Antipasto-sosaties
(maak 12)

1 spanspek, geskil en ontsaad
100 g proscuitto*
100 g mozzarella-balletjies
olyfolie, na smaak
growwe swartpeper, na smaak

Maak spanspekballetjies of sny die spanspek in blokkies. Draai elke balletjie of blokkie toe met proscuitto. Rangskik drie spanspekballetjies op 'n lang bamboo-vleispen met 'n mozzarella-balletjie tussen elk. Besprinkel met olyfolie en swartpeper. Bedien.

*Prosciutto is die Italiaanse woord vir ham, soos byvoorbeeld Parmaham. Dit neem enige tyd van 9 tot 18 maande om dit te maak (‘cure’) afhangende van die grootte van die ham.