TUIS
Skemerkelkies

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!

Appel-en-vanielje-margarita
(maak 1)

Bestanddele:
1 handvol gerasperde appel
1 kroeglepel* of teelepel vanieljesuiker**
2 sopies tequila
1½ sopies cointreau (lemoenlikeur)
1½ sopies lemmetjiesap

Metode:
Druk die skemerkelkglasie se rand in sout (sit ʼn bietjie suurlemoensap in 'n piering en 'n bietjie sout in 'n ander. Rol die raam van die skemerkeltjieglas liggies eers in die suurlemoensap en dan in die sout).

Voeg al die bestanddele in 'n skudbottel met ys en skud goed. Gooi die drankie deur ʼn dun siffie en gooi dit in die glasie. Garneer die drankie met 'n stukkie lemmetjieskil.(Dit word tradisioneel met ʼn suurlemoen of lemmetjiewiel gegarneer.)

*'n kroeglepel is min of meer die grootte van 'n teelepel maar het 'n langer steel.
**Maak vanieljesuiker deur ‘n vanieljepeul in ‘n potjie met suiker te sit. Sit ‘n deksel op en laat dit ‘n paar dae staan om die geur goed te laat intrek.

Don Julio uit die oude doos
(maak 1)

Bestanddele:
1 kroeglepel* of teelepel suiker
'n paar druppels bitters
2 sopies tequila
stukkie lemoenskil

Metode:
Plaas suiker en bitters in glas en meng totdat die suiker opgelos is. Voeg 'n bietjie van die tequila by en roer tot goed gemeng. Voeg 'n paar blokkies ys by die tequilamengsel en hou aan roer. Volg die laaste twee stappe totdat die volle 2 sopies tequila gebruik is – dit neem sowat 5 minute om die perfekte Don Julio uit die oude doos te maak!

Vul die drankie met ys nadat dit goed gemeng is. Vat ʼn stukkie lemoenskil en vee dit om die rand van die glas. Die skil se olie gee die drankie ʼn aangename lemoengeur en –reuk. Gooi dan die skil in die drankie as garnering.

*'n kroeglepel is min of meer die grootte van 'n teelepel maar het 'n langer steel.

Granaat-kosmopolitaan
(maak 1)

Bestanddele:
1½ sopies vodka
1½ sopies cointreau (lemoenlikeur)
2 sopies granaatsap
lemmetjiekonsentraat
stukkie lemoenskil

Metode:
Meng die vodka, cointreau, granaatsap en lemmetjiekonsentraat in 'n skudbottel en skud met mening. Gooi die mengsel deur 'n siffie en dan in 'n mooi glas. Sny 'n stukkie lemoenskil van die vrug af en verhit die skil met ʼn aansteker. Terwyl die vlam brand druk die olie oor die drankie uit. Dit sal so ʼn effense vonkie maak. Smeer die skil aan die rand van die glas en gooi in die drankie as garnering.





Kliek hier om ons kookboek te bestel