

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Tarentaalpastei
(bedien 4-6)
Hierdie tarentaalpasteiresep van Niel Els, hoofbestuurder van Boschendal Restaurante, is opgedien tydens Pasella se 19de eeuse onthaal. Dit is 'n ou familieresep en is volgens Niel genoeg vir 6 mense. Maar, omdat dit so smaaklik is, sê hy, kan jy maar op vier ook reken om die bak leeg te kry.
1 tarentaal, skoongemaak en in porsies gesny
water, genoeg om tarentaal te bedek
250 g gerookte spek, fyngekap
½ t fyn naeltjies
1 e fyn koljander
2 e blatjang
500 ml karringmelk
sout en peper na smaak
250 ml suurroom
Vulsel
Voorverhit
oond tot 180 ºC.
In 'n swaarboomkastrol of potjie, kook die tarentaal in die water tot die vleis van die bene begin afval. Haal die tarentaal uit die pot en verwyder dan al die bene. Dit is harde werk hierdie! Gebruik twee vurke om die ontbeende stukkies vleis goed uit te pluis.
Plaas die vleis terug in die kastrol, kook al die water weg en voeg dan die gerookte spek, naeltjies, koljander en blatjang by. Braai oor vinnige hitte, maar krap gedurig die vleisies van die bodem af om te verhoed dat dit brand. Voeg die karringmelk bietjie vir bietjie by en kook tot die vleis begin karamelliseer. Geur met sout en peper. Sodra die vulsel droog gebraai is, voeg die suurroom by, roer deur en verwyder van die hitte. Plaas die vulsel in 'n gesmeerde vuurvaste skottel, bedek met die kors* en bak 20 min. Die pastei gaan heerlik saam met soetpatats en Shiraz!
*Kors
1 e strooisuiker
2 k koekmeel
¼ t sout
¼ t kremetart
20 ml bakpoeier
50 g plaasbotter
1 eier
1 k suurroom
eiergeel vir smeer van kors
Meng die suiker, meel, sout, kremetart en bakpoeier. Vryf die botter deur die mengsel met jou vingers, tot dit soos broodkrummels voel en lyk. Klits die eier in die suurroom en meng alles goed saam. Die deeg kan effens vloeibaar wees. Skep dit egalig oor die vulsel en verf met eiergeel.