
Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Botterboontjiesop met tamatiesalsa
(bedien 6-8)
Marlin Clayton van Cotage Fromage het by Kleinplasie net buite Worcester se eeue oue kombuis hierdie gereg gemaak. Dit gaan saam ʼn 19de eeuse onthaal wat Pasella gehou het. Volgens Marlin is boontjies gebruik omdat dit ʼn proteïen is en ook lank gehou het sonder moderne koeltoerusting.
1 t komynsaad, fyngekap
1 t koljandersade, fyngekap
2 e olyfolie
1 ui, gekap
2 huisies knoffel, gekneus
1 groen brandrissie, gekap
1 prei, gekap
1 wortel, gekap
4 repies spek, in blokkies gesny
1 blikkie (400 g)
botterboontjies
375 ml hoenderaftreksel
sout en peper na smaak
Droogbraai die komyn- en koljandersade in ʼn warm pan om die geure te ontsluit en plaas eenkant.
Verhit die olie in 'n pot en braai die uie en knoffel tot gaar. Voeg die rissie, prei, wortel en laastens die spek, komyn-en-koljandersade by en braai 2 minute. Voeg dan die botterboontjies en hoenderaftreksel by en bring tot kookpunt. Prut 10 minute en verwyder van hitte. Geur met sout en peper na smaak. Indien verkies kan die sop fyngemaak word in ʼn voedselverwerker voordat dit saam met die tamatiesalsa bedien word.
Tamatiesalsa
6 tamaties, gekap
1 blikkie pronkboontjies (410 g)
28 g vars koljander, gekap
28 g vars basiliekruid, gekap
1 rooi ui, gekap
sap van 1 lemmetjie
Sout en peper na smaak
1 t olyfolie
Meng al die bestanddele saam en geur met sout en peper na smaak. Sprinkel met olyfolie en bedien saam met die botterboontjiesop.