Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Appeltert
(maak 1 tert)
Vir die 19de eeuse onthaal wat Pasella gehou het, het Niel Els die hoofbestuurder van Boschendal Restaurante hierdie heerlike tradisionele nagereg opgedien.
± 300 g soet tertdeeg*
500 g geskilde 'golden delicious' appels, stronk verwyder en in kwarte gesny
4 eiergele
90 g suiker
2 druppels vanieljegeursel
4 knippies kaneel
200 ml room
Voorverhit die oond tot 215 ºC.
Smeer 'n tertbord van 26 cm in deursnee, met 'n bietjie botter. Rol die soet tertdeeg 3 mm dik uit, sny in 'n 30 cm-sirkel en voer die tertbord daarmee.
Sny elke appelkwart in 4
snye en plaas eweredig oor die deeg. Begin aan die buitekant en laat die snye effens oorvleuel. Bak 15 minute.
In die tussentyd, meng die eiergeel, suiker, vanielje en kaneel baie goed. Klop die room tot styf en vou in saam met die eiergeel-mengsel.
Bedek dan die gebakte appel en deeg met die eiermengsel en bak 'n verdere 35 minute of tot die appels sag is. Bedien warm net so, saam met room of vanieljeroomys.
*Soet tertdeeg
(maak ± 500 g)
125 g sagte botter
90 g strooisuiker
1 eier
250 g koekmeel
2 knippies sout
Room die botter en suiker tot lig en donsig. Voeg die eier by en meng 30 sekondes. Voeg dan die meel en sout by en meng tot 'n droë deeg vorm. Verkoel tot benodig.