Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Barmbrood
(maak 2 brode)
Barm brood is een van die tradisionele 19de eeuse geregte wat vir Pasella gemaak is op Kleinplasie net buite Worcester. Charen Moses van Cotage Fromage het gedemonstreer hoe dit in 'n buite-oond gebak is (ons resep is vir ʼn gewone binne-oond). Bedien dit saam met tuisgemaakte bokmelkkaas en kweperkonfyt.
Barm
340 g gekookte hawermout, verkoel
30 g heuning
120 g suurdeegplantjie* (of 25 g kommersiële droë gis)
Brood
Al
die barm/biergis
100 ml water
10 g kitsgis
600 g grofgemaalde broodmeel
1 t sout
Barm
Meng die hawermout met heuning en suurdeegplantjie (of kommersiële gis) en laat dit oornag gis om die barm/biergis te maak.
Brood
Voorverhit oond na 220 °C.
Meng die barm met die water en kitsgis, voeg die meel en sout by en meng tot 'n deeg vorm. Plaas op 'n geoliede oppervlakte en bedek met 'n klam lappie. Laat die deeg 10 minute rus.
Knie dan tot sag en elasties (sowat 10 minute) en laat dit rys tot dubbel die grootte (sowat 90 minute). Deel in twee gelyke dele en vorm elk in 'n ronde brood. Plaas weer in ʼn warm plek en laat rys tot dit verdubbel in grootte (dis sal ongeveer 40 minute tot 'n uur en 'n half neem). Bestrooi nou met ʼn bietjie meel, sny 'n kruis bo-op en besprinkel met 'n bietjie koue water. Draai die temperatuur van die oond af na 180 °C sodra die brood in die oond is en bak 40-45
minute tot goudbruin.
*'n Suurdeegplantjie bestaan gewoonlik uit :
Meel, gewoonlik koringmeel
Water - verkieslik ongechlorineer (en so onbesoedel as wat jy jou brood wil hê)
Die gisspesie
Die Lactobacillusspesie
Die laaste twee items op die lys is natuurlik nie sigbaar met die blote oog nie. Die plantjie staan in Engels as die “mother culture” of “starter” bekend. Met die ‘nat plantjie’-metode, word ʼn 50/50 mengsel van meel water gemaak en met ʼn klein bietjie van die vorige plantjie ‘geënt’. Dit beteken elke keer as jy jou plantjie gebruik, moet jy ʼn bietjie oorhou vir die kweek van ʼn nuwe een.
ʼn Metode:
20g ou plantjie
100g meel
100g water
Hou jou nat plantjie in ʼn glasfles. As jy klaar jou nuwe een gemeng het, laat staan dit ʼn uur of wat. As jy sien dit maak sigbare borreltjies, kan jy dit in die yskas bêre. Daar rys dit stadig (stadiger as buite die yskas) totdat jy dit nodig het en teen kamertemperatuur gebruik vir jou volgende bakeksperiment.