

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Tuisgemaakte bokmelkkaas
(maak 200 g kaas)
Vir Pasella se insetsel waartydens ons in 19de eeuse styl onthaal het, het Marlin Clayton van Cotage Fromage naby Franschhoek in die Kleinplasie museum net buite Woester gedemonstreer hoe om hierdie bokmelkkaas te maak.
2 liter vars bokmelk
sap van 8 suurlemoene
moeseliendoekie vir dreinering van kaas
sout & peper na smaak
sprietuie, na smaak
geroosterde knoffel, na smaak
Gooi die suurlemoensap by die bokmelk en laat 20-30 minute totdat die wei en wrongel begin skei of dikmelk vorm. Dit moet totaal aangesuur wees en sal soos suurmelk lyk. Drapeer die moeseliendoek oor 'n bakkie en gooi die mengsel hierdeur. Bind die lap toe met 'n tou, hang die lap met die 'melkfrummels' nou bo die bakkie met die tou, en laat die melkerige water deur die lap syfer totdat die kaas droog is. Moet nie die proses aanhits deur die water deur die lap te probeer forseer nie - dit neem ongeveer 1 uur. Haal die vars bokmelk ricotta wat in die lap is uit en geur met sout, peper, sprietuie en knoffel volgens jou voorkeur. Bedien met barmbrood en kweperkonfyt.