

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Confit de Canard (gepreserveerde eend)
(bedien 6)
Hierdie gepreserveerde eendresep is wat van Niel Els van Boschendal Restaurante vir Pasella se 19de eeuse onthaal gekies het. In hierdie tradisioneel Franse dis raak die vet hard en preserveer die eend vir etlike maande.
6 eendporsies (verkieslik bene/boude)
2 knoffelhuisies, geskil en in die helfte gesny
2 tiemietakkies
60 g growwe seesout
2 e gemaalde swart peper
1.2 kg eend- of gansvet
Vryf die stukke eend met knoffel. Krummel die tiemie in 'n vlak bakkie en meng met die growwe seesout en peper. Rol die eend in hierdie mengsel
en plaas dan in 'n bord. Bedek en plaas 12 uur in die yskas.
Vryf die eend skoon, smelt die vet in 'n groot pot oor lae hitte en voeg die eend by. Maak seker dat die eendstukkies goed bedek is, anders kan nog vet bygevoeg word. Bedek die pot en kook 2 ure oor baie lae hitte, die vet moet skaars prut. Wanneer dit gaar is, verplaas die eend en vet na ʼn 1cm diep bak (die eend moet bedek wees met vet). Die eend kan nou vir etlike maande in ʼn koel plek bewaar word (waar die vet nie sal smelt nie).
Om te bedien moet die eendstukkies uit die vet verwyder word en ± 8 minute aan ʼn kant in 'n droë pan gebraai word om soveel van die vet moontlik te verwyder. Dreineer op kombuispapier. Dit kan warm bedien word saam met geroosterde aartappels of sampioene. Koud gaan dit heerlik saam met 'n slaai van brusselse spruite met 'n okkerneutolie slaaisous en knoffel-kroetons.