TUIS
Kweperkonfyt

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!

Kweperkonfyt
(maak 220g)

Malin Clayton van Cotage Fromage het hierdie tradisionele kweperkonfyt vir Pasella se 19de eeuse onthaal gemaak. In daai dae was daar nie yskaste om bestanddele vars te hou nie en daarom is vrugte op hierdie manier bewaar wanneer daar 'n oorvloed was. Dit gaan perfek saam met barmbrood en bokmelkkaas.

500 g kweper, geskil en in stukke gesny
water, vir kook van kwepers
200 g suiker
1 suurlemoen, versap
1 lemoen, versap
steranys, een vir elke kweper*

Kook die kwepers in water tot dit sag is. Dreineer en voeg die suiker, suurlemoensap, lemoensap en steranys by. Laat toe om 2-3 ure teen baie lae hitte te prut tot die kweper diep-oranje in kleur is en die stroop dik is. Gooi in gesteriliseerde bottel en bedek met suikerstroop.

* Omdat steranys 'n sterk smaak het, kan dit bygevoeg word volgens jou voorkeur, maar in hierdie resep is ongeveer een steranys per kweper wat gebruik word bygevoeg.





Kliek hier om ons kookboek te bestel