TUIS
Melktert

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!

Melktert
(maak 2 terte)

Melktert loop al 'n lang pad in die Suid Afrikaanse geskiedenis en volgens Niel Els hoofbestuurder van Boschendal Restaurante is dit ook een van gunsteling nageregte wat in die 19de eeu gemaak is. Dit is saam met ander soetgoed opgedien tydens Pasella se 19de eeuse onthaal.

150 g blaardeeg
60 g botter
1 liter melk
2 kaneelstokkies
6 eiers, geskei
4 e mielieblom
2 e koekmeel
6 e suiker
1 t vanieljegeursel
kaneelsuiker as garnering

Verhit die oond na 180 ºC.
Rol die blaardeeg 3 mm dik uit en voer twee ronde pasteihouers met 'n deursnee van 20 cm elk daarmee uit. Prik die bodem 'n paar keer met 'n vurk en verkoel dan goed. Plaas die botter, melk en kaneelstokkies in 'n pan en bring tot kookpunt. Verwyder van hitte en verwyder dan ook die kaneelstokkies. Plaas die eiergeel, koringmeel, koekmeel, suiker en vanielje in 'n bak en meng tot 'n deeg. Voeg dan stadig die melkmengsel by die deeg en meng om 'n vla te vorm. Klits die eierwitte tot sagtepunt en vou in die vlamengsel in. Gooi die mengsel in die twee verkoelde pasteihouers en bak 30 min tot goudbruin bo-op. Besprinkel met kaneelsuiker en bedien.





Kliek hier om ons kookboek te bestel