TUIS
Daltjies (chilly bites)

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!

Daltjies (chilly bites)
(maak 25 daltjies)

Daltjies,'n tradisionele Maleisiese gereg, is vir Pasella gemaak deur Zainie Misbach van die Noon Gun Restaurant in die Bo-Kaap. Pasella het gaan kook met die spesery en krui, koljander, en daltjies is een van die geregte wat gemaak is.

1 mediumgrootte ui, fyngekap
10 takkies vars dhania koljander, fyngekap*
3 groot spinasieblare, fyngekap
1 koppie selfrysmeel
1 koppie ertjiemeel**
1 e bakpoeier
1 t sout
1 t fyn borrie
1 t fyn komyn
1 t rooi masala***
½ t droë of vars rissies, gekap
1 eier
¾ koppie water
olie vir diep braai

Meng al die droë bestanddele en speserye saam. Voeg die eier by en roer goed terwyl die water stadig bygevoeg word. Roer tot dit 'n drupbare dikte bereik, nog water kan bygevoeg word indien nodig.
Vul 'n 3cm-diep pannetjie met olie en verhit. Skep die deeg lepelsgewys in die warm olie en braai oor medium hitte tot goudbruin en gaar.

* Dhania is 'n ander naam vir koljander en is 'n standaard bestanddeel in meeste Indiese geregte. Dit kan in saad-, blaar- of takkievorm wees en die sade kan in heel of as fyn poeier gekoop word.

** Ertjiemeel word gemaak van droë ertjies en is beskikbaar by speserywinkels. As alternatief kan channa-meel gebruik word. Dit word gemaak van 'n witter ertjie of lensie en is ook beskikbaar by speserywinkels.

*** Masala is 'n geurige mengsel speserye wat in kerrie, breyani en atjar gebruik word. Daar is baie verskillende soorte, insluitende droë en nat masala. Dit is verkrygbaar by meeste supermarkte en speserywinkels.





Kliek hier om ons kookboek te bestel