TUIS
Masala-snoek

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!

Masala-snoek
(bedien 4)

Pasella het gaan kook met die spesery koljander by die Noon Gun Restaurant in die Bo-Kaap. Hierdie Masala-snoek resep maak gebruik van vars koljander en sjef Zainie Misbach het gewys hoe om dit te maak.

1 kg snoek, skoongemaak en oopgesny
2 e seekosmasala*
2 e vars knoffelpuree
15 takkies vars dhania koljander, fyngekap**
sap van 1 suurlemoen
1 e olie
sout na smaak
1 eiervrug, in skywe gesny
± 50 ml olie vir braai van vis

Was en droog die snoek. Meng die masala, knoffel en koljander met die suurlemoensap en olie en druk die mengsel met jou handpalm op die snoek vas. Braai die snoek ongeveer 10 minute in olie op lae hitte. Braai ook die eiervrugskywe en besprinkel met 'n bietjie masala. Bedien saam met dahl-kerriesous* en rys.

*Dahl-kerriesous

Dahl is gekerriede klein rooi lensies

± 2 e olie
2 groot uie, fyngekap
1 groot tamatie, gekap
1 e gekapte knoffel
1 e gekapte gemmer
2 e masala van jou keuse*
2 t komyn
2 t fyn koljander
2 t borrie
sout na smaak
groen rissies na smaak
1 liter water
500 g rooi lensies
½ bossie vars dhania koljanderblare **
6 kerrieblare

Verhit olie en braai uie in 'n groot pot tot goudbruin. Voeg tamatie by en braai 1 minuut. Voeg al die speserye en kruie behalwe die kerrie en dhaniablare by saam met 50 ml van die water om aanbranding te voorkom. Voeg die lensies en res van die water by. Bring tot kookpunt en verlaag dan die hitte. Prut tot die dahl 'n vloeibare voorkoms het en die lensies sag is. Voeg laastens die dhania en kerrie by. Garneer ook met 'n paar dhaniablare.

* Masala is 'n geurige mengsel speserye wat in kerrie, breyani en atjar gebruik word. Daar is baie verskillende soorte, insluitende droë en nat masala. Dit is verkrygbaar by meeste supermarkte en speserywinkels.

** Dhania is 'n ander naam vir koljander en is 'n standaard bestanddeel in meeste Indiese geregte. Dit kan in saad-, blaar- of takkievorm wees en die sade kan in growwe of fyn poeier gemaal word.





Kliek hier om ons kookboek te bestel