TUIS
Lamsvleisbreyani

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!

Lamsvleisbreyani
(bedien 6-8)

Hierdie lamsvleisbreyani kry sowel fyn as vars koljander in en is dus perfek vir Pasella se insetsel waar ons met die spesery koljander gekook het. Foyzi Taylor van die Noon Gun Restaurant in die Bo-Kaap het vir Charlene gewys hoe om die gereg voor te berei.

Marinade
2 groen brandrissies, ontpit en fyngekap
1 t borrie
2 t fyn komyn
2 t fyn koljander
bossie vars dhania koljander opgekap*
2 t fyn vinkel
1 e breyanimasala**
2 t sout
2 groot tamaties, gerasper
1 koppie Bulgaarse jogurt
1 kg lamsvleis, in blokkies gesny
Vleis
30 g botter
3 heel naeltjies
6 stukkies wonderpeper (‘all spice’; ‘pimento’)
4 stokkies kaneel
8 peule kardamom
1 groot lourierblaar
1 ster anys
1 koppie olie
3 groot uie, in skywe gesny
1 kg lamsvleis, gemarineer*
2 koppies water
Breyani
500 g basmatirys, half gaar gekook (± 5min)
1 t sout
250 g bruin lensies, gekook
6 aartappels, in kwarte gesny en in olie gebraai tot goudbruin
6 hardgekookte eiers, in die helfte gesny
100 g botter, in skywe gesny
15 saffraanhare
2 koppies water
Dhay
˝ bossie dhaniablare, fyngekap*
1 t suurlemoensap
2 koppies ongegeurde Bulgaarse jogurt
1 e fyn koljander
knippie sout
2 e suiker
fyngekapte brandrissies, na smaak

Marinade
Meng al die marinadebestanddele saam. Was en dreineer die vleis en bedek met die marinade. Laat staan 3 ure.
Vleis
Smelt die botter in 'n groot pot en braai die speserye 30 sekondes op lae hitte. Voeg die olie en uie by en smoor op middelmatige hitte tot die uie bruin is. Voeg die gemarineerde vleis by en smoor saam met die water tot gaar en sag. Dit sal ± 30 na 45 minute neem. Verwyder van hitte en hou eenkant.
Breyani
Gebruik 'n groot pot en voer dit uit met foelie om aanbranding te voorkom. Plaas helfte van die rys in die pot, sprinkel met sout. Plaas die gebraaide vleis- en uiemengsel bo-op die rys gevolg deur die lensies en dan die aartappels. Plaas die res van die rys bo-op, gevolg deur die eiers, botter skywe, saffraan en 500 ml water. Sit die deksel stewig op en kook sowat 45 minute oor lae hitte. Onthou om nie die pot oop te maak voor die kooktyd verby is nie!
Dhay***
Meng die dhaniablare en suurlemoensap in 'n bakkie en 2 eetlepels van die jogurt met die koljander in 'n ander bakkie. Meng nou die suurlemoensapmengsel en die koljander-jogurt saam en voeg dan die res van die bestanddele (ook die res van die jogurt) by. Meng goed tot 'n dik maar tog vloeibare massa. Melk kan bygevoeg word as die mengsel te dik is. Plaas in klein melkbekertjies en hou in die yskas tot opdiening. Bedien saam met die breyani.

* Dhania is 'n ander naam vir koljander en is 'n standaard bestanddeel in meeste Indiese geregte. Dit kan in saad-, blaar- of takkievorm wees en die sade kan in growwe of fyn poeier gemaal word.

**Masala is 'n geurige mengsel speserye wat in kerrie, breyani en atjar gebruik word. Daar is baie verskillende soorte, insluitende droë en nat masala. Dit is verkrygbaar by meeste supermarkte en speserywinkels.

*** Dhay is 'n jogurt wat saam met breyani geregte bedien word.





Kliek hier om ons kookboek te bestel