

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Samoesas
(maak 25 samoesas)
Pasella het by die Noon Gun Restaurant in die Bo-kaap met koljander gekook. Zainie Misbach, 'n sjef by die restaurant het hierdie samoesas, wat vars koljander gebruik, gemaak.
250 g maalvleis
¼ e fyn borrie
¼ e fyn kerrie
¼ e komyn
¼ e droë koljandersade, fyngemaal
¼ e vinkel
¼ blaarmasala*
¼ droë brandrissies, gekap
¼ e knoffel, gekap
¼ e gemmer, vars of droog, gekap
1 e sout
1 ui, fyngekap
¼ bossie vars ‘dhania’ koljander, fyngekap**
25 purr deegvelletjies***
deeggom****
Braai die maalvleis en speserye (behalwe die vars koljander) in 'n groot swaarboomkastrol oor medium hitte tot gaar en krummelrig. Laat die vleis afkoel. Meng die rou uie en vars koljander en voeg saam met die koue vleis. Gebruik 'n teelepel om die samoesapakkies te vul met 2 t van die vleismengsel en seel. So doen mens dit: vou die velletjie purr deeg in jou linkerhand en vou die onderste regterhoek van die velletjie boontoe om 'n driehoek te vorm met skerp punte. Vou die regterkantse oop-sy van hierdie driehoek 'n paar millimeter in om 'n driehoekige pakkie te vorm. Vul hierdie pakkie met 2 t van die vulsel. Vou nou die driehoek van regs na links oor, om 'n pakkie te vorm en herhaal tot die hele velletjie ingevou is. Seel die laaste oop kant, met die deeggom. Druk die twee onderste gedeeltes ligweg saam om die samoesa effens op te pof voor dit diepgebraai word.
*Masala is 'n geurige mengsel speserye wat in kerrie, breyani en atjar gebruik word. Daar is baie verskillende soorte, insluitende droë en nat masala. Dit is verkrygbaar by meeste supermarkte en speserywinkels.
**Dhania is 'n ander naam vir koljander en is 'n standaardbestanddeel in meeste Indiese geregte. Dit kan in saad-, blaar- of takkievorm wees en die sade kan in growwe of fyn poeier gemaal word.
***Purr deegblare is velletjies samoesadeeg wat beskikbaar is by deli's en speserywinkels.
****Deeggom word gemaak van ± 3 e koekmeel en net genoeg water om 'n taai massa te vorm. Dit word gebruik as 'gom' om die samoesas toe te seel.)