




Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Bohemian Yard se meringues met sjokolademousse-vulsel
(Maak ± 25 meringues)
Vir Pasella se insetsel waar sjefs inspirasie van kunstenaars se werke kry, het Ismail Dysel van die Bohemian Yard Restaurant in Vishoek hierdie meringues met sjokolademousse-vulsel opgedien om kunstenaar Elzette Welgemoed se bordkuns te voltooi.
4 eierwitte
200 ml strooisuiker
50 ml witwynasyn
20 g fyngekapte pistasieneute
Voorverhit oond tot 100 șC.
Plaas die eierwitte in 'n mengbak. Klop 5 minute en voeg die suiker geleidelik by. Gooi die witwynasyn by en klop 'n verdere 2 minute. Plaas die mengsel in 'n
tregter-sak en druk rosies (of vorms van jou keuse) uit op 'n gesmeerde bakplaat. Sprinkel die pistasieneute oor die meringues. Bak 40 minute in die oond, verlaag die oond se hitte na 50 șC en bank 'n verdere 40 minute. Verwyder en laat afkoel. Vul met sjokolademousse-vulsel* deur 'n tregter-sak te gebruik.
* Sjokolademousse-vulsel
50 ml kakaopoeier
100 g gesmelte donker sjokolade
200 ml geklopte vars room
2 eierwitte, styfgekop
100 ml suiker
Meng die kakao en die gesmelte sjokolade goed en meng dit dan by die room in. Voeg die suiker by die styfgeklopte eierwitte en vou dan die eierwit versigtig by die sjokolademengsel in om lug in die mengsel te behou. Plaas die mousse in tregter-sak en gebruik as vulsel vir meringues.