

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Piquantérissie-blatjang
(bedien 6)
500 g piquanté rissies (peppadews)
125 g witsuiker
½ k witdruiwe-asyn
1 ui, in fyn skyfies gesny
1½ t fyn gemmer
1½ t sout
1 steranys
Verwyder die pitte en binnevliesies van die piquanté rissies, dompel in kookwater en trek skilletjies af. Sny in dun repies. Meng die res van die bestanddele in ʼn kastrol en verhit stadig tot suiker opgelos is. Gooi die piquanté rissies by en kook dan vinnig tot die blatjang 'n drupbare dikte het, roer af en toe. Bedien met Bloukaassoufflé.
Bloukaassoufflé
(maak 8)
2 e botter
2 e koekmeelblom
1½ k warm melk
1 k bloukaas, gekrummel
½ t sout
knypie witpeper
1 t mosterdpoeier
4 eiers, geskei
Voorverhit die oond tot 180 ºC, smeer klein koffie koppies met 'n bietjie botter en bestrooi met papawersaadjies. Smelt die botter in 'n katrol oor lae hitte en roer die meel met 'n houtlepel by. Wanneer dit ligbruin is, voeg die melk by terwyl aanhoudend geroer word. Roer die mengsel tot dit dik word en kook 1 minuut. Verwyder van die stoof. Voeg die kaas en geurselmiddels by en roer dan die eiergele by. Klits die eierwitte tot styf en vou dit dan liggies by die bloukaasmengsel in. Bak die souffle vir 20 minute tot dit goed uitgepof is. Bedien dadelik.