

Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Amarula-gegeurde bavarois*
(bedien 6)
1 k melk
3 eiergele
75 g witsuiker
1 e gelatienpoeier geweek in 2 e koue water
knippie sout
1 t vanieljegeursel
1½ e Amarula-likeur
1 k room, geklop
Verhit die melk in 'n kastrol tot net warm.Verroom intussen die suiker en eiergele. Voeg dan die warm melk stadig by die eier en suikermengsel. Gooi die eier-melkmengsel terug in die kastrol en kook oor lae hitte terwyl gedurig geroer word. Hou aan totdat dit verdik of 'n dun lagie vorm op die agterkant van die houtlepel. Voeg die gedehidreerde gelatien by die warm mengsel en roer tot opgelos. Meng die sout, vanieljegeursel en likeur by en verwyder van hitte. Verkoel tot dit begin gel en vou dan geklopte room in. Gooi in 6 stolvorms en stol oornag. Om dit uit te haal, druk die onderkant van die vorms vinnig in warm water.
*Bavarois is 'n nagereg wat gewoonlik bestaan uit eiervla wat met geklopte room gemeng en met gelatien in 'n vorm geset word.