



Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Leeu-kolwyntjies
(maak 12)
Neem gewone vanielje of sjokoladekolwyntjies en versier hulle driedimensioneel om by die tema van die partytjie te pas.
12 klaar kolwyntjies
200 ml botterversiersel (vir gras)
100 ml eetbare plastiese fondant
Poeier koskleursel (oranje, swart en bruin)
100 ml bruin 'petty-nice'-versiersel vir maanhare
Sterk suikerwater om deeltjies te plak
Maak die groen "gras" deur die gewone botterversiersel groen te kleur en met 'n knoffel pers uit te druk sodat dit soos regte gras lyk. Die groen versiersel kan dik aangesit word.
Vir die maak van die
leeugesiggies, neem die eetbare plastiese fondant en deel dit in vier dele. Hou 'n klein gedeelte van die plastiese fondant wit en kleur die ander drie dele individueel oranje, bruin en swart met poeier koskleursel (wat beskikbaar is by meeste koekwinkels).
Maak twee balletjies van die oranje fondant, een bietjie groter as die ander. Die kleiner balletjie word effens agterop die bokant van die kolwyntjie geplaas nadat die groen versiersel opgesit is. Dit word gedoen om die gesiggie meer regop te laat staan.
Druk dan die groter balletjie effens plat sodat die ogies, neus, snor en oortjies maklik daarop geplaas kan word. Gebruik sterk suikerwater en 'n kwassie om dan die komponente (ogies, neus, oortjies en snorbaarde) op die gesiggie te plak.
Die maanhare ('petty-nice' versiersel) word weer uitgedruk met die knoffelpers en reg rondom die gesiggie met die suikerwater vasgeplak.
Gebruik 'n tande- of sosatie-stokkie om gaatjies te druk vir die
snorbaarde.
Gesonde happie
(maak 42 happies)
'n Gesonde happie en lekker manier vir kinders om partytjiekos te geniet! En, wees gewaarsku, jy kan maar drie per kind maak want hulle is mal daaroor.
1 witbrood, gesny
margarien vir smeer van brood
fyn biltongskaafsels (genoeg om broodblokkies te bedek)
¡¾ 1 pakkie (250 g) rosa-tamaties, in die helfte gesny.
¡¾ 2 standaard pakkies kaas, in dikkerige plakkies gesny
Druk patroontjies uit die witbrood met koekiedrukkers (grootte en vorms volgens voorkeur maar ongeveer 3 vormpies per sny). Smeer die broodvormpie met margarien reg om en rol dit dan in die biltongskaafsels sodat die skaafsels aan die broodjie vassit. Sny elke kaasplakkie in 4 vierkante.
Ryg die broodjie dan op 'n sosatiestokkie saam met twee halwe kersietamaties en 4 blokkies kaas. Vir bietjie kleur kan selfs 'n stukkie seldery bygevoeg word.