Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Luganica-pasta
(bedien 4)
Sjef Saverio Cardillo van die Bottega Restaurant in Parkhurst, Johannesburg se passie vir kook het op die vroeë ouderdom van 19 jaar reeds begin. Saverio het internasionale ondervinding as pizza-sjef opgedoen in New York na hy sy studies aan die Birnham Kollege voltooi het. Bottega, wat 'klein werkswinkel' in Italiaans beteken, het in Junie 2006 oop gemaak. Vir Pasella het Bottega smaaklike Luganica-pasta opgedien.
90 ml olyf olie
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 rooi brandrissie fyngekap
½ rooi ui, gekap
500 g luganica-maalvleis*
5 lourierblare
1 takkie vars
roosmaryn
50 ml rooiwyn
400 g klein tamatietjies, gekap
5 vars basiliekruidblare
sout en swartpeper na smaak
400 g droë pasta van jou keuse
250 g vars ricotta-kaas
100 g parmesaan
Verhit die olie en braai die knoffel en brandrissie tot dit begin verbruin. Voeg die uie by en braai tot dit versag en verbruin. Voeg dan die maalvleis by en braai 10 minute terwyl gereeld geroer word. Nou kom die lourierblare, roosmaryn en wyn by. Kook 10 minute. Voeg die tamatie by, prut ongeveer 20 minute. Voeg die basiliekruid by. Geur.
Verhit 'n pot vol water saam met 'n knippie sout en 'n teelepel olyfolie. As die water kook, voeg die pasta by en kook ongeveer 7 minute tot sag. Dreineer en meng die sous in. Krummel die ricotta oor die mengsel. Bedien gegarneer met basiliekruidblare, parmesaan- skeersels en swart peper.
*Luganica is varkfilet wat fyngemaal is en gemarineer word met rooiwyn, vinkelsade, lourierblare, sout en swartpeper.