Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Flambé eend met Oosterse geure
(bedien 4)
Sjef Saverio Cardilo van die Bottega Restaurant in Parkhurst, Johannesburg se passie vir kook het op die vroeë ouderdom van 19 jaar reeds begin. Saverio het internasionale ondervinding as pizzasjef opgedoen in New York na hy sy studies aan die Birnham Kollege voltooi het. Bottega, wat 'klein werkswinkel' in Italiaans beteken, het in Junie 2006 oop gemaak. Tydens Pasella se kuier by Parkhurst het Saverio hierdie Oosters-gegeurde eend opgedien.
2 eendbors-filette
1/3 k konjak (Courvoisier v.s.o.p)
250 g babaspinasie
250 g wilde Italiaanse broccoli
15 g
bruinsuiker
1 e sojasous
botter vir braai van spinasie en broccoli
30 g vars granaat
10 g spruitjies (‘sprouts’)
Marinade
1/3 koppie pruimsous
1 sitroengras, fyngekap
1 e sojasous
1 stukkie vars gemmer, gerasper
1 e heuning
2 e olyfolie
1 e vars lemmetjiesap
1 takkie vars roosmaryn, fyngekap
2 blare vars salie, fyngekap
sout en peper, na smaak
Meng al die bestanddele vir die marinade en laat die eend 30minute tot 'n uur daarin lê. Verwyder die eend, droog af en braai - eers 3 minute aan die vel-gedeelte, draai dan om en los vir nog 3 minute om bruin te word aan die ander kant. Plaas die eend in die oond teen 180 ºC vir 'n verdere 10 tot 15 minute, afhangende van hoe gaar jy dit verkies. Verwyder uit die oond en laat rus 5 minute. Plaas die eend terug in dieselfde pan as wat vir die smoor gebruik is. Voeg die konjak by en steek dit aan die brand.
Smelt 'n
klein bietjie botter in 'n ander pan en voeg dan die babaspinasie, broccoli, suiker en sojasous (1 e) by. Braai tot gaar maar steeds krakerig.
Plaas die spinasie en broccoli in 'n bord. Sny die eendborsies in baie dun stukke en plaas bo-op die groente. Rond af deur die orige sous wat in die pan is, oor te drup, en strooi dan die granaat en spruitjies oor.