


Let wel: Al die resepte wat op Pasella se webwerf verskyn, kom van die betrokke sjef/s of restaurant/instansie waar ons die storie skiet. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat dit reg aangeteken word, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir die korrektheid daarvan nie. Lekker speel in die kombuis!
Gerookte forelomelette met nori gerol
(bedien 6)
Die Dock House het in Maart 2008 oopgemaak by die V&A Hotel in Kaapstad. Dié luukse boetiekhotel het gasheer gespeel vir Pasella se moedersdag-gaste - Minki en haar ma Carien van der Westhuizen en Paul Adams en sy ma Anne. Sjef Antoinette Edson van die Dock House het besluit om hulle met ʼn baie spesiale voorgereg te bederf.
6 eiers
3 e sojasous
2 e mirin*
1 t suiker
3 nori-velletjies**
2 t wasabi-pasta***
100 g gerookte forel
Om te bedien
gepekelde gemmer
¼ k sojasous
Klop die eiers saam met 1 e van die sojasous en die mirin. Maak olyfolie of botter warm in ʼn pan. Gooi ʼn bietjie van die eiermengsel in (net genoeg om die oppervlak te bedek) en braai weerskante tot ligbruin. Die omelette moet papierdun wees. Sny nou die nori-velletjie in die helfte en verf elkeen met die orige sojasous en wasabi aan die een kant. Sit 'n omelet op elke velletjie, dan 'n stukkie forel, maar maak seker die een kant het nog ʼn stukkie oop. Rol op en plak vas met die oop stukkie nori-vel. Sny elkeen van die rolletjies in drie en bedien met sojasous sodat dit daarin gedoop kan word asook gepekelde gemmer om die palet skoon te maak.
*Mirin is versoete ryswyn wat gereeld in Japannese-geregte en souse gebruik word.
** Nori-velletjies is baie dun velletjies gemaak van seewier. Dit is beskikbaar by Oosterse winkels en die meeste supermarkte.
*** Wasabi is 'n groen peperwortelpasta wat tradisioneel saam met sushi bedien word. Dit het 'n baie sterk geur en smaak en is beskikbaar by Oosterse winkels en die meeste supermarkte.