 |
Susanna van Biljon is ʼn nuwe Afrikaanse fliek en die veertigste op Franz Marx se kerfstok. Die hoofrol van Rebecca Dreyer word vertolk deur Karen Zoid. Karen is nie al ster wat helder skyn in die film nie. Charlene kry ʼn voorskou saam met Nico Panagio wat die rol van Max vertolk en Shaleen Surtie-Richards wat Jo-Ann speel.
Karen het die temalied Want as ek Droom saam met Sean Butler geskryf. In die film probeer Karen se karakter, Rebecca Dreyer wegkom van haar kleindorpse bestaan. Sy wil haar droom najaag om sangeres te word. Haar ma, mevrou Dreyer wat deur die veteraan aktrise Marié du Toit vertolk word, is heftig gekant teen die idee. Die rolprent het al die intrige van struikelblokke wat oorbrug moet word en ʼn liefdesdriehoek wat opgelos moet word. Meer as genoeg om gehore aan te gryp.
Die rolprent is oor ʼn tydperk van vyf weke in Johannesburg, Uniondale en Cullinan verfilm. Die filmspan het ook by die KKNK en Huisgenoot se Skouspel Plus in die Kaap tonele opgeneem. Mens sou dink dat Karen oorweldig was om in die film te speel, maar sy was by die Nasionale Skool van die Kunste waar sy drama as vak gehad het. Sy wou nog altyd die kans kry om haar staal as aktrise te wys en toe Franz Marx haar nader om te hoor of sy sou belangstel, was die antwoord ʼn besliste “ja”. Die slag steel sy die kollig vir haar toneelspel. Om die waarheid te sê, sy sing slegs twee liedjies in die fliek.
Nog ʼn bekende sanger wat sy lyf akteur hou, is Nicholis Louw wat homself speel. Kunstenaars soos Kurt Darren, Ray Dylan en Jakkie Louw, Nianell en Rina Hugo en die Drakensbergse Seunskoor sing ook in die fliek. Veteraanakteurs soos Louis van Niekerk, Wilna Snyman en Marié du Toit maak verder seker dat hierdie ʼn topgehalte produksie is.
Dis ʼn Jan Alleman-verhaal van geloof, hoop en liefde wat vertel word deur die room van ons akteurs en ʼn klomp gewilde sangers. Sorg dat jy dié een op die grootskerms sien. Susanna van Biljon word op 23 September by Nu Metro teaters vrygestel.
Agter die skerms
PASELLA BEDANK GRAAG:
Karen Zoid Nico Panagio Shaleen Surtie-Richards Franz Marx Films
|