Kontak Pasella

Pasella Hemelbesem

Pasella se 27ste seisoen is volstoom terug op die kassie vanaf Woensdag, 17 Oktober 2018, 19:30 op SABC 2. 

Drie nuwe aanbieder-gesigte, ‘n verskeidenheid bestemmings en geheel en al ‘n nuwe baadjie! In die 27ste seisoen van Pasella word drie bestemmings, ervarings en onderwerpe van dieselfde aard, maar tog  met uiteenlopende eienskappe, in elke episode beleef.

Enigiets van drie van die nuutste oefen-neigings, drie van die lekkerste restaurant-ervarings, drie eersteklas glamping-areas, drie adrenalien-belaaide sportsoorte tot drie visvangplekke om uit te toets.

Om net ‘n paar te noem: Pasella vang drie plaaslike treine waarvan plesier-soeker, maar ‘n punt kan maak om op te klim.  Drie unieke en eiesoortige wegbreek-blyplekke word uitgetoets vir dié wat ‘n buitengewone blaaskans nodig het.  Drie diere-hotelle wat viervoetige vriende op die hande dra word besoek, plus drie haarsalonne met ‘n kinkel wat mans, vrouens en kinders se haredos in ‘n japtrap transformeer. 

Elke episode bevat ‘n drievoudige dosis van unieke ervarings, bestemmings en aktiwiteite wat avontuurlustige siele gerus op hulle lysie van ‘dinge om te doen’ kan sit. Op die Pasella-reis word daar altyd tyd gemaak om bekendes beter te leerken buite hul gewone omstandighede. Ons ontdek ook die meesterbreine agter oorspronklike idees en bestemmings.

Hier en daar ruil ons ‘n wen-resep uit, kry praktiese wenke van kundiges en Pasella sommer net met lekker lag, kook en kuier saam met die vriendelike en gasvrye Suid-Afrikaners langs die pad. 

Eie aan die naam ‘Pasella’ sluit elke episode ‘n Pasella-kyker-kompetisie, in, wat vir kykers die kans gee om self die uiteenlopende en opwindende wedervaringe wat Suid-Afrika bied, eerstehands te kan ervaar. 

Kuiergaste sluit gunsteling vermaaklikheidspersoonlikhede, soos die akteur, Frank Rautenbach en Jill Levenberg, in.  Idols-wenner, Paxton Fielies, ikoon-sangeres, Claire Johnston, sanger, radio-omroeper, Martin Bester en sangeres, Tarryn Lamb. Ook sportsterre, soos Dillyn Leyds, Jaco Coetzee, EW Viljoen en Scarra Ntubeni.   

Pasella verwelkom drie nuwe aanbieders:


Rumarques Gelderbloem
Rumarcques is ook bekend as die rymkletser, Oxijin. Hy is oorspronklik van Worcester in die Wes-Kaap. Hy is ‘n MC, ‘n radio-omroeper op RSG en Vallei fm, asook ‘n mentor by die ATKV Crescendo liedjieskryfskool. Rumarcques het kanker oorkom, waarmee hy in 2015 gediagnoseer is, wat ‘n groot bron van inspirasie vir sy gedigte en musiek is. Hy het ‘n twee-jarige dogtertjie en is ook verloof om Desember vanjaar die knoop deur te hak. 
Instagram & Twitter - @besemboss


Amalia Uys
Die aktrise Amalia Uys is in Springbok in die Noord-Kaap gebore, voordat hulle gesin Pretoria toe getrek het. Sy het ‘n dramagraad by die Universiteit van Stellenbosch voltooi en is veral bekend vir die rol van ‘Sanmarie’ wat sy vir 6 jaar in 7de Laan vertolk het. Sedertdien het sy in films soos ‘Klein Karoo’, asook die hoofrol in ‘Sy Klink soos Lente’ gespeel. Sy was in teaterproduksies soos ‘In my Vrou se lyk se tas’ en was ook ‘n mede-vervaardiger van die film, Jagveld. Sy is in 2017 met Shaun Golding, ‘n water-tegnoloog getroud en bly tans in die Kaap. 
Instagram - @amaliauysTwitter - @AmaliaUys

Sasha-Lee Davids
Sasha-Lee Davids is oorspronklik van Atlantis in die Wes-Kaap. Sy is bekend as die mede-wenner (saam met Jason Hartman) van die 5de Idols-reeks in 2009. Sy het ook die realiteitsreeks, MATRIX in dieselfde jaar gewen. Sy het die geleentheid gekry om saam met Jamie Jones, die sanger van die groep All-4-One, aan die snit ‘Before You’ te werk op haar debuut-album, ‘Sasha-Lee’. Sy was ook in 2011-2012 te sien in die realiteitsreeks, House of Davids, waaraan sy en haar familie van sangers, deelgeneem het. 
Instagram: @sashaleedavids777Twitter: @Sasha777

Dit sal die Pasella-aanbieder Paul Rothman se 19de jaar op Pasella wees. Hy en Hemelbesem (Simon Witbooi) wat sedert 2015 deel van die span is, het albei in 2017 pa’s geword en is reg vir groot Pasella-avonture in die 27ste seisoen. 
Nota: Daar sal die 29ste September ‘n publisiteit-fotosessie met die Pasella-aanbieders vir seisoen 27 wees en foto’s sal spoedig daarna beskikbaar wees vir moontlike publikasie. 

Kontak ons:

e-Pos: corne@pasella.com
Foon: 021 700 1020
Faks: 021 700 1053

Posadres:
Posbus 30347, Tokai, 7966
Suid-Afrika

Pasella hoor graag van ons kykers. As jy 'n storie-idee het of iets beleef of gesien het wat jy dink ons kan gebruik, stuur dit per e-pos na: corne@pasella.com.