|

"Hierdie is ‘n lekker voorgereg of vingerhappie. Dit vat miskien effe lank, maar onthou, al jou werk word gedoen voor jou gaste arriveer. Omdat dit vegetaries is, werk dit ook goed voor ‘n braai. As jy nie lus het om die terrien te maak nie, die groentemengsel werk ook heerlik as ‘n slaai."
2 rooi soetrissies
2 groen soetrissies
6 courgettes (in skyfies gesny)
3 eiervrugte (in skywe gesny)
½ k olyfolie
2 e tiemieblare
2 e pietersielie (gekap)
1 t gekapte knoffel
witbroodsnye, korsies verwyder
Rooster die soetrissies onder die roosterelement van jou oond terwyl jy gereeld draai sodat dit oral effe verswart. (Jy kan dit ook oor ‘n gasvlam of selfs ‘n oop vuur doen). Bind die soetrissies toe in ‘n plastieksak en laat om koud te word (dit help dat die velle maklik verwyder kan word). Haal dan uit en verwyder die velle. Sny in kwarte.
Braai die murgpampoentjies en eiervrug in ‘n bietjie olie tot sag. Kombineer die soetrissie, murgpampoentjies en eiervurg. Meng die olyfolie, tiemieblare, pietersielie en knoffel. Geur met sout en peper en gebruik om die groente in the marineer vir so ‘n paar uur of oornag in die yskas.
Voer 'n langwerpige broodpan uit met kleefplastiek, laat dele oor die kante van die pan hang. Pak die onderkant vol witbroodsnye. Volg met ‘n laag groente, pak dan afwisselend met meer snye brood. Eindig met snye brood aan die bokant. Vou die kleefplastiek toe en plaas oornag in die yskas met 'n snyplank met swaar voorwerp bo-op. Bedien, in snye as voorgereg of soos ons as kleiner vingerhappies op ‘n stokkie.
|