Wilna Snyman het op 14 September 75 geword en in 2006 haar outobiografie, Memoires gepubliseer. Vandag onthou ons saam met haar. Wilna is in Kimberley gebore. Haar loopbaan begin in 1967 as lid van die destydse TRUK-geselskap. Vir haar vertolking in Kanna hy kô hystoe het sy die eerste van 12 Beste Aktrise-toekennings ontvang. In 1984 kry sy ʼn Erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bydrae tot die bevordering van toneel. Met soveel jare as aktrise, moet daar heelwat wees om uit te stal en dit doen sy wel. Maar, sê ook dat ʼn mens moet onthou dat die kuns van die teater vervlietend is – saamgevat in ʼn plakboek wat stof vergader en net leef in die herinneringe van sterflike mense. Wilna is getroud met Jaap Smit wat voorheen verbonde was aan die Randse Afrikaanse Universiteit in die Departement Opvoedkunde. Hulle het 7 jaar gelede dié huis in ʼn aftreeoord gekoop. Hy het Parkinson en is tans in die siekeboeg van die aftreeoord. Wilna het in 2007 by Aardklop gehore laat skaterlag in Deon Opperman se Kaburu. In 2008 speel sy in die Dorpstraat teater in Stellenbosch in haar eie storie – Nooit is ʼn Lang tyd – ʼn verwerking uit haar boek Memoires. Sy sê haar boek is opgedra aan twee van haar kleinkinders wat haar bewus gemaak het dat ʼn mens moet weet waar jy vandaan kom om werklik te verstaan waarheen jy op pad is. Dit is vir Wilna ʼn seën om haar dogter Lize van der Walt ook op Hermanus te hê. Lize is ʼn kunstenaar wat Overbergse landskappe op doek vaslê. Sy stal uit by die Mission House galery se koffiewinkel en ma en dogter skilder en skryf graag saam. Wilna se seun, Bennie woon tans in Durbanville. Sy sê as daar een ding is wat sy nie meer doen nie, is dit kook. Sy eet uit, koop wegneemetes of gaan eet by Lize! Sy sê sy weet nou die lewe is ʼn bittersoet, lag-met-‘n-traan, ja-nee ervaring. En dat die drama van lewe, ʼn komedie is. Die geheim is net dat jy moet aanhou kyk totdat jy dit kan raaksien! PASELLA BEDANK GRAAG: Wilna Snyman Lize van der Walt Christi Panagio Mission House Gallery – Onrus Rivier T: 028 316 2269 F: 028 316 3477 glendapop@telkomsa.net Hemel en See Boeke Hemel & See 15 Indigolaan 33 Vermont 7201 T: 028 316 4852 F: 028 316 3477 info@hemelensee.co.za www.hemelensee.co.za |
|