Ek is gebore in Tel Aviv in Israel waar my ouers in die diplomatieke diens was. Toe ek een jaar oud was, het ons na Argentinië verhuis waar ons nog vier jaar gewoon het.
Terug in Suid-Afrika, het ons in Pretoria gevestig waar ek aan die Afrikaans Hoër Seunskool gematrikuleer het. Ek was nog altyd mal oor sport en op skool het rugby, swem en 'n karate my besig gehou. Daarna het ek op ‘n Kibbutz in Israel gaan werk en bewus geword van my passie vir die vreemde – hetsy interessante kos, mense of plekke.
In 1997 begin ek by Tukkies B.Com Regte swot en ontdek Volkontak Thaiboks. In my finale jaar (1999) word ek gekies as die Patrick Daniel – Model of the Millennium. Dit het my lewe natuurlik verander en dis ook toe dat ek aanbieder op Pasella geword het.
Sedertdien het ek ook my LLB graad voltooi en iewers tussenin ook die WPKA Afrika en toe WPKA Wêreld Swaargewig Professionele Volkontak Thaiboks-titel gewen. (My broer, Sebastiaan Rothmann het byna terselfdertyd die IBO en WBU Wêreld Kruisergewig-Titel verower en ses keer suksesvol verdedig.)
EK het in 2006 by SEESA (Pty) Ltd begin as regsadviseur (Suid-Afrika se grootste werkgewersmaatskappy), en vandag is ek die Nasionale Bestuurder van SEESA Training waar ons opleiding aan besighede reg oor die land verskaf – en ons vinnig besig is om een van die grootste opleidingsinstansies in SA te word.
Ek het onlangs ook teruggekeer na die gevegs-kryt waar ek my eerste MMA geveg (hok-geveg) gedoen het, en sommer ook ‘n maand later weer ‘n opstaan-geveg (Thaiboks). Ek kan nie glo ek het so lank gewag om weer te begin nie, want ek het dit geweldig geniet (blou-oog en al).
Tussendeur volg ek my groot passie, naamlik om by skole en besighede te praat oor die 'Strewe na meer in die Lewe'. Die seminaar staan bekend as, Discover the Warrior Within, en dit bestaan uit drie afdelings, naamlik:
1. 'n Bespreking oor Waardestelsels vir 'verhewe' besluitneming
2. 'n Interaktiewe selfverdedigingskursus
3. Beginsels vir die vorming van 'n lewensstrategie.
Uiteindelik streef ek daarna om die wêreld 'n beter plek te maak, en of ek sukses behaal of nie, ek glo dat ek in die proses self sal groei en dit maak dit alles die moeite werd.
Gesels verder met Paul:
Twitter: @PaulRothmann1
Facebook: Paul Rothman Fans