SKERP: SAAF se skerp museum

03 September 2010

SAAF valskermspringers Op 1 Februarie 1920 is die Unieverdedigingsmag se Lugdienste gestig, grootliks as gevolg van ʼn skenking van die Britse regering van ongeveer 100 vliegtuie. Vandag is dit die Suid-Afrikaanse Lugmag. Hul heel eerste fasiliteit was by Zwartkops en dis waar gasaanbieder Tanya van Graan is.

Kaptein en historiese navorsingsoffisier, Leon Steyn sê hul Boeing 707 is die grootste en jongste vliegtuig in die museum en het in die laat 1950’s en vroeë 1960’s ʼn omwenteling in lugvervoer wêreldwyd meegebring. Dit was die eerste spuitaangedrewe passasiersvliegtuig wat op grootmaat vervaardig is en vlugtye drasties verkort het. In vliegtuigloods nr. 1 is ʼn vliegtuig wat dateer uit die pioniersjare van ons lugvaartgeskiedenis. Hy vertel dat die Brit Cecil Compton Patterson ʼn vliegtuigbouer was en die eerste instrukteur om plaaslike vlieëniers op te lei.

Gemeet aan vandag se standaarde was die Sikorsky S-51 en S-55 ʼn primitiewe ontwerp en sy suierenjins swaar met beperkte kraglewering. Die lugmag vier ook vanjaar die 50ste herdenking van die eerste aflewering van hierdie Allouette II-helikopter. Nog ʼn trotse item, is die P51 Mustang wat tussen 1950 en 1953 in die Koreaanse oorlog gebruik is.

Die museum, wat in 1973 deur Kolonel PMJ McGregor begin is, bevat items uit albei Wêreldoorloë, die Berlynse Lugbrug en die Koreaanse oorlog. Die voormalige hoof van die SA Lugmag, generaal Denis Earp, ontmoet vir Tanya in die koffiewinkel se kroeg genaamd die War Zone.

Die museum bevat van Generaal Earp se persoonlike foto’s en items. Nog ʼn vliegtuig wat vanjaar 60 jaar in diens van die lugmag is, is die Vampire in Loods 3. Dit was die lugmag se eerste operasionele straal-aangedrewe vegvliegtuig na Wêreldoorlog twee.

Die museum het nagenoeg 130 vliegtuie waarvan 15 afwisselend elke eerste Saterdag van die maand gevlieg word. Enigeen kan Maandae tot Saterdae tussen 10 en drie die museum besoek. Tanya wou gaan kyk na die uniforms van Sir Pierre van Ryneveld, die stigter van ons lugmag. Hy en Quintin Brand was eerste om van Engeland na Suid-Afrika te vlieg en moes as gevolg van teenspoed, drie vliegtuie gebruik.

Hy was tot in 1933 hoof van ons lugmag en is in 1972 op 81 jaar oorlede. Tanya is genooi vir ʼn vlug in ʼn Puma-helikopter uit die 60’s.

 ʼn Puma-helikopter is in 1991 gebruik om 219 passasiers van die sinkende Oceanos te red. Dit was inderdaad ook die lugmag se werkesel tydens die bosoorlog in die 70’s en 80’s.

Om aansoek te doen om ʼn vlieënier te word, moet jy tussen 18 en 26 wees, 20/20 visie hê en skerp wees in wiskunde! Maar, onthou, daar is ander interessante loopbane in die lugmag, soos navigators, tegnici, lugverkeerbeheerders, brandweermanne en selfs sjefs en musikante.

Gaan besoek die museum of gaan kyk op die eerste Saterdag van elke maand hoe hulle vlieg. En, as jy te ver van Pretoria af is, onthou daar is ook museums by Ysterplaat in die Kaap en in Port Elizabeth – Jy sal mal wees daaroor!

PASELLA BEDANK GRAAG:

Luitenant-generaal Denis Earp
Luitenant-kolonel Neil Thomas
Luitenant-kolonel Willie Nel
Sersant Mphuti Ngoako
AO1 Pierre du Toit
Kaptein Leon Steyn
Tanya van Graan

SAAF Museum
T: 012 351 2290
webmaster@saafmuseum.org
www.saafmuseum.org
SAAF vlieguig in vlug
Tanya van Graan op Pasella
Ou foto van SAAF vlieniers
Tanya van Graan binnein die SAAF museum
SAAF vliegtuig
Pasella by die SAAF museum
Ou SAAF uniforms
SAAF helikopter
   

Lees Ook: