SPOOK: Stellenbosch salig-swewend

06 Augustus 2010

Irshaad en Vicky Stellenboschspookroete Stellies is inderdaad naas Kaapstad, ons oudste dorp en is reeds in 1679 gestig. Pietman Retief is die eienaar van Pietman Retief Wyntoere, maar vandag ruil hy wyn vir skyn! Hy wag hulle in by die Verbatim Boekwinkel in Dorpstraat waar een van die langste rye historiese geboue in Suid-Afrika nog staan. Hier, vertel Pietman, loop boeke snags rond. Soms, in die oggend as die eienaar inkom, lê ʼn boek op die grond of is sommer op heel ʼn ander plek as waar dit die vorige dag was. So het ʼn boek oor Nelson Mandela al deur die vertrek gesweef en elders beland. Hy sê dat selfs oorsese besoekers wat niks hiervan weet nie, een aand deur die venster geloer het en so ʼn swewende boek aanskou het. Dié boekehuis was lank, lank gelede ʼn lykshuis wat aan ʼn dominee se vrou behoort het. Ná haar man se dood, het sy en die dokter oorkant ʼn soort van ‘affair’ gehad en het hy al sy dooies na haar gestuur. Hy het ʼn kers in die venster aangesteek as iemand daar dood is en dan het sy vinnig haar mense gestuur om die lyk te gaan haal voordat ander lykbesorgers dié besigheid kon kry.

Die volgende huis waarheen hulle stap, is die OM Bergh-huis. Dis nie seker presies wanneer dit gebou is nie, maar dit moes omstreeks 1757 gewees het. Bergh was die onderbalju van Stellenbosch en hy en sy gesin het tussen 1836 en 1877 hier gebly. Hulle was egter van die gelukkiges wat tot ruste gekom het. Dit was ná hulle dat een van die inwoners se vrouens glo net nie haar lot wil aanvaar nie. Dié vrou was glo ongelukkig getroud en haar man het haar tydens ʼn rusie van die trappe afgestamp. Sy is dood, maar bly glo steeds hier en laat die hare van party besoekers rys.

Hierna is hulle op pad na die begraafplaas van die Moederkerk wat nes die dorp, die tweede oudste gemeente in die land is. Hul gebou self is ʼn jeugdige 115 jaar, maar met net 15 lidmate is die gemeente reeds in 1686 gestig. Die kerk was later spreekwoordelik die moeder van 10 afgestigte gemeentes soos dit gegroei het en soos dit in daardie jare gedoen is, is van die gemeentelede onder die kerk begrawe. Pietman vertel dat dit gewoonlik net die rykes was want dit was duur om ʼn graf onder die kerk te koop. So het jy op 'n Sondag in die kerk gesit en as daar pas iemand begrawe is, het die reuk die kerk vol gehang – vandaar die idioom dat iemand ‘stinkryk’ is.

Ene Johan Cloete was ʼn onsedelike skepsel en wou toe ook graag daar begrawe word. Die dominee het geweier en hy is onder by die rivier begrawe waar hy so gespook het, dat die dominee later met hom gesprek gaan voer het en ingestem het dat hy onder die kerk begrawe word. Hy was toe tevrede, maar die dominee het seker gemaak almal weet dat hy ʼn afvallige was en het ʼn seerowersteken op sy grafsteen aangebring.  

Spook of nie spook nie – dié swewendes het deur die eeue al groot letterkundige werke geïnspireer, soos Hamlet se pa wat by hom gespook het om sy moordenaar aan die kaak te stel. En, interessant genoeg, het elke land sy eie bekende spoke – soos ons s’n by Uniondale.


PASELLA BEDANK GRAAG:

Pietman Retief
Pietman Retief Wine Tours
20 Jonkershoek Road, Stellenbosch, 7600
Tel: 021 887 8474
E-pos: pietmanretief@wine-tours.co.za
www.wine-tours.co.za


Stellenbosch Museum
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch, 7600
Tel: 021 887 2948
E-pos: stelmuseum@mweb.co.za
www.stelmus.co.za

Verbatim Boekwinkel
Dorpstraat 158, Stellenbosch, 7600
Tel: 021 887 2655
E-pos: verbatimbooks@gmail.com

Stellenbosch Moedergemeente
Drostdystraat 2, Stellenbosch, 7600
Tel: 021 883 3458/ 021 887 0012
E-pos: kantoor@moederkerk.co.za
www.moederkerk.co.za

Vicky se klere: Maya Prass
Stellenbosch spookroete
Vicky en Irshaad bang
Pietman Retief op Pasella
Spookroete in Stellenbosch
Haunted bookshop Pasella
Spookhuis in Stellenbosch
Haunted house op Pasella
Stellenbosch spookroete op pasella
Vicky Davis se klere geborg deur Maya Prass
   

Lees Ook: